Nuus 12:00
BULLETIN 9 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne gebruik die Mynbou-indaba om beleggersvertroue te versterk
# Die Christchurch-moskeeterroris wil appelleer teen sy skuldigbevinding
# En krieket: Die Protea-kaptein is vol vertroue in die aanloop tot die eerste T20-Wêreldbekerwedstryd teen Kanada
# Die Departement van Minerale- en Petroleumhulpbronne sê hy sal die Mynbou-indaba gebruik om beleggersvertroue in Suid-Afrika se mynbedryf te herstel en te versterk. Die indaba, wat vandag in Kaapstad begin, bring Afrika-leiers, rolspelers in die bedryf en beleggers byeen om die verantwoordelike ontwikkeling van die vasteland se minerale bronne te bespreek te midde van wêreldwye geopolitieke onsekerheid. Die departement sê sedert die vorige indaba is aansienlike vordering gemaak om bestendigheid, politieke sekerheid en groei deur die instelling van ‘n deursigtige mynlisensiestelsel te verseker.
# Elektrisiteitstariewe gaan in 2026/2027 met 8,76-persent styg en in 2027/2028 met 8,83-persent nadat die energiereguleerder, Nersa, ‘n bykomende inkomste van 54,734-miljard-rand vir Eskom goedgekeur het. Dis ʼn poging om Nersa se regulatoriese batefout reg te stel. Eskom se regstreekse verbruikers betaal van 1 April meer en munisipale instellings vanaf 1 Julie. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die algehele bykomende inkomste sal in fases ingevorder word:
Dele van Johannesburg se middestad, insluitend Newtown en Braamfontein, sal intussen ʼn week lank sonder krag wees na Vrydag se brand by die Bree-substasie. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê herstelwerk begin vandag nadat veiligheidsbepalings afgehandel is. Hy sê tegnici sal beskadigde infrastruktuur vervang en krag behoort teen die einde van die week herstel te wees.
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese man wat in 2019 51 Moslem-aanbidders by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, vermoor het, wil appelleer teen sy skuldigbevinding. Brenton Tarrant is tot lewenslange tronkstraf sonder parool gevonnis nadat hy in Maart 2020 skuldig gepleit het op 51 aanklagte van moord, 40 van poging tot moord en een van terreur. Die 35-jarige het aan die Nieu-Seelandse Appèlhof in Wellington gesê dat hy nie in staat was om rasionele besluite te neem toe hy skuldig gepleit het nie weens die marteling en onmenslike toestande in die tronk.
# Krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue voor vandag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Kanada in Ahmedabad, Indië. Suid-Afrika was in 2024 die naaswenner en is een van die gunstelinge om te wen ná hulle sege in verlede jaar se Wêreld-toetskampioenskap. Die ander lande in Groep D is Nieu-Seeland, Afganistan en die Verenigde Arabiese Emirate. Markram sê hulle sal versigtig wees teen Kanada:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-340-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-26-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….