Nuus 12:00
BULLETIN 30 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma en Mbeki se aansoeke om regter Khampepe van WVK-verhore te laat onttrek word van die hand gewys
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal is bekommerd oor Amerika se uitsluiting van Suid-Afrika uit G20-byeenkomste
# En krieket: ‘n Voormalige onder-19-kaptein maak dalk haar buiging vir die senior Protea-span teen Pakistan
# Oudregter Sisi Khampepe het oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki se aansoeke van die hand gewys dat sy as voorsitter van Waarheids- en Versoeningskommissie-sake moet onttrek. Die aansoeke verwys na beweerde botsende belange weens Khampepe se vorige rolle in die WVK en die Nasionale Vervolgingsgesag. Sy het in haar uitspraak gesê Zuma en Mbeki kon nie daarin slaag om enige redelike vrees van vooroordeel te bewys nie, en het die indiening van hul onttrekkingsaansoeke onredelik vertraag. Die uitspraak beteken die oudpresidente sal voor die kommissie moet getuig.
# Die vakverbond Cosatu het sy teleurstelling uitgespreek met die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers onveranderd te laat. Die sentrale bank se Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers op 6,75-persent gelaat terwyl die prima-uitleenkoers 10,25-persent bly. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die uitleenkoers moet met minstens 50 basispunte daal om miljoene werkers wat met stygende lewenskoste sukkel, ‘n blaaskans te gee:
# Die Solidariteit-beweging striem die aankondiging van die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, dat ʼn massabetoging teen Amerika vir 21 Maart beplan word. Hy het gister op ‘n nuuskonferensie ná die ANC-lekgotla Suid-Afrika se verhouding met Amerika as ʼn “koue oorlog” beskryf en sê die land ondersteun steeds multilateralisme, maar gaan nie deur president Donald Trump geboelie word nie. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê Mbalula en die ANC se verklarings en optrede is ekonomiese selfdood:
Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, is intussen bekommerd oor Suid-Afrika se uitsluiting van G20-prosesse onder Amerikaanse leierskap. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het in November gesê Suid-Afrika sal nie genooi word na geleenthede wat sy land aanbied nie na maande van toenemende spanning oor handelstariewe en Trump se bewering van wit volksmoord in Suid-Afrika. Guterres sê die G20 is nie ‘n multilaterale organisasie nie, maar ‘n samevoeging van lande:
# Krieket: Die voormalige Suid-Afrikaanse onder-19-vrouekaptein, Kayla Reyneke, sal na verwagting haar buiging vir die senior span maak nadat sy ingesluit is in die groep vir die T20-tuisreeks van drie wedstryde teen Pakistan. Ander spelers in die groep sluit in kaptein Laura Wolvaardt, Chloé Tryon, Marizanne Kapp, Dané van Niekerk, Masabata Klaas en Ayabonga Khaka. Die top-orde kolwers Lara Goodall en Faye Tunnicliffe is deel van die eendaggroep vir die reeks wat op die T20’s volg. Die eerste T20 vind op 10 Februarie in Potchefstroom plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-676-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-159-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….