Nuus 12:00
BULLETIN 29 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die aangewese Amerikaanse ambassadeur moet nog sy geloofsbriewe aan president Ramaphosa oorhandig
# ‘n Voormalige Misdaadintelligensie-beampte beweer hy is afgedank omdat hy geweier het om onregmatige uitgawes goed te keur
# En Kaapstad se damvlakke is nou 20-persent laer as ‘n jaar gelede
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die aangewese nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, het nog nie sy geloofsbriewe aan president Cyril Ramaphosa oorhandig nie. Bozell is ‘n bekende bondgenoot van president Donald Trump en volg Ruben Brigety op wat ‘n jaar gelede bedank het. Ntshavheni sê ook Suid-Afrika moet nog ‘n plaasvervanger aanwys vir sy voormalige ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, nadat hy tot persona non grata verklaar is.
# Die voormalige Misdaadintelligensie-beampte, Tiyani Hlungwani, sê hy is afgedank omdat hy nie wou goedkeuring gee vir uitgawes van die Geheimediens-rekening nie. Hy het getuig voor die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel ondersoek. Hlungwani, wat voorheen hoof was van Finansies en Administratiewe Dienste by Misdaadintelligensie, beweer daar was korrupsie en misbruik van staatshulpbronne onder die leierskap van Misdaadintelligensie se afdelingskommissaris, Dumisani Khumalo. Hy sê hy was gedurig onder druk omdat hy nie finansiële beheer onder verdenking wou bring nie.
# Agt mense is dood in ‘n botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n minibustaxi op die R102 in Durban. KwaZulu-Natal se nooddienste is op die toneel om verskeie ander vasgekeerde passasiers te hulp te snel. Mediese dienste en reddingspanne werk om die slagoffers te bevry. Owerhede het motoriste aangespoor om die toneel te vermy terwyl ondersoeke na die oorsaak van die ongeluk aan die gang is.
# Kaapstad se damvlakke is byna 20-persent laer as dieselfde tyd verlede jaar, en staan nou op 62-persent. Die stad waarsku dat hoë gebruik tot beperkings kan lei en dring aan dat inwoners water bespaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê waterverbruik het ‘n hoogtepunt van byna een-miljard-liter per dag bereik, ver bo die teiken van 975-miljoen:
# Basketbal: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het amptelik met ‘n proses begin om die bestuur van die sport in Suid-Afrika te herbou. Dit volg na die mislukking van Basketbal Suid-Afrika weens voortdurige bestuurs- en administratiewe probleme wat die sport se ontwikkeling belemmer het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê die proses sluit in dat ʼn omvattende plan opgestel word vir die sport se herlewing en volhoubare ontwikkeling:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-940-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-528-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….