Nuus 12:00
BULLETIN 28 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Soektog word van stapel gestuur ná die moord op drie mans in ‘n Gordonsbaaise winkelsentrum
# Verkope van elektriese voertuie steek die eerste keer dié van petrolvoertuie verby in die Europese Unie
# En tennis: Elena Rybakina en Jessica Pegula is deur na die Australiese Ope se halfeindronde
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur nadat drie mans gisteraand in ‘n winkelsentrum in Gordonsbaai doodgeskiet is. Die voorval blyk bendeverwant te wees. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê ‘n saak van moord is by die plaaslike polisiestasie geopen:
# RISE Mzansi waarsku vertragings in geregtigheid vererger, met moordveroordelings wat nou 175 dae neem teenoor 148 en verkragtingsveroordelings wat gestyg het tot 219 dae vanaf 197. Makashule Gana van RISE Mzansi sê sake van aanranding en opset om ernstige liggaamlike skade aan te rig, neem ook langer. Die party gee die polisie se swaar werklas die skuld, sowel as ‘n tekort aan speurders en forensiese agterstande, en vra meer hulpbronne, spesialispersoneel en ‘n moderne strafregstelsel:
# Duisende Suid-Afrikaanse akteurs, rolprentmakers en rolprentspanne betoog voor die Parlement in Kaapstad vir die dringende hervorming van die Rolprent- en TV-aansporingskema wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, ingestel het. Betogers sê werksgeleenthede het met 60-persent gedaal en die sektor het sedert Covid-19 met die helfte verminder, wat werksgeleenthede en plaaslike produksies bedreig. Hulle vra vinniger aansporings, tussentydse befondsing en regeringsondersteuning om ‘n uittog van talent te vermy.
Nuus uit die buiteland:
# Verkope van elektriese motors het verlede maand die eerste keer dié van petrolvoertuie in die Europese Unie oortref. Battery-elektriese registrasies het ook dié van petrolmotors in die breër Europese mark verbygesteek. Motorverkope op die vasteland het vir ‘n sesde maand op ‘n jaargrondslag gegroei. Kenners verwag dat elektriese voertuie sal aanhou om hul aandeel van die Europese mark te vergroot. Die sekretaris-generaal van E-Mobility Europe, Chris Heron, sê Europese vervaardigers het begin aanpas deur nuwe en bekostigbare elektriese voertuies bekend te stel, terwyl individuele lande nuwe aansporingskemas aanbied.
# Tennis: 2023 se naaswenner, Elena Rybakina, is deur na die Australiese Ope se halfeindronde. Die vyfde-gekeurde Kazak het die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek, verslaan en ‘n stokkie gesteek voor die Pool se strewe na ʼn loopbaan-Grand Slam. Rybakina het in 2023 se eindstryd teen Aryna Sabalenka van Belarus verloor. Sy pak Jessica Pegula vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd nadat die Amerikaner haar landgenoot Amanda Anisimova geklop het om haar eerste halfeindronde in Melbourne te haal. In die ander halfeindstryd spook Sabalenka en Elina Svitolina van Oekraïne sake uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-82-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-972-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-292-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….