Nuus 12:00
BULLETIN 26 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die goudprys bereik ‘n geskiedkundige hoogtepunt
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Madison Keys, word uitgeskakel op die Australiese Ope
# En die Oos-Kaapse polisie soek geskikte honde vir sy honde-eenhede
# Die goudprys het vanoggend tot ‘n rekordhoogtepunt van meer as vyf-duisend-dollar per fynons gestyg, namate beleggers in veilige hawe-bates belê te midde van toenemende geopolitieke onsekerheid. Goud het tot vyf-duisend-en-89-dollar per fynons gestyg op onmiddellike verhandeling. Kenners van plaaslike ondernemings soos Ninety One, Knox en Rand Swiss beskou die styging as positief vir Suid-Afrika se ekonomie sowel as sy goudmyne en voorspel pryse kan later vanjaar van die bestaande hoogtepunt tot meer as ses-duisend-dollar per ons styg.
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die regering het ‘n verantwoordelikheid teenoor die bestuurder betrokke in verlede week se noodlottige skoolvervoerongeluk in Vanderbijlpark, Gauteng. Veertien leerders is dood toe hulle minibusbestuurder talle ander voertuie verbygesteek en teen ʼn vragmotor gebots het. Chikunga het op ʼn gesamentlike begrafnis in Sebokeng erkenning gegee aan die gemeenskap se woede en hartseer, maar klem gelê op aanspreeklikheid, rehabilitasie en die regte proses.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Brandweerdiens het bevestig dat brandbestryding in die berge bo Franschhoek voortgaan. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê die brand wat op die 17de ontstaan het, is grootliks onder beheer, maar daar is ʼn aktiewe brandlyn bo in die Banghoekvallei. Sy sê grond- en lugspanne is in die uiters steil, gevaarlike terrein besig terwyl ʼn verwante brandlyn in die Overberg bestuur word:
# Tennis: Die Amerikaner Jessica Pegula het haar landgenoot en verdedigende vroue-enkelspelkampioen, Madison Keys, verslaan om die vierde keer die Australiese Ope se kwarteindronde te haal. Sy speel nou teen nog ʼn Amerikaner, Amanda Anisimova, wat met Wang Xinyu van China afgereken het. In die mansafdeling het Lorenzo Musetti sy eerste kwarteindronde in Melbourne gehaal toe hy Taylor Fritz verslaan het. Die Italianer pak nou die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, wat onder die laaste agt is nadat die Tsjeg Jakub Mensik weens ʼn maagspierbesering moes onttrek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-813-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-96-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Die Oos-Kaapse polisie doen ‘n dringende beroep op die publiek om honde te skenk vir hul honde-eenhede. Woordvoerder Majola Nkohli sê daar is ‘n kritieke tekort aan geskikte honde en dit belemmer tans noodsaaklike misdaadbestryding, soek-en-reddings- en opsporingsoperasies reg oor die provinsie. Hy sê hulle soek gesonde, selfversekerde, en energieke honde wat nie bang is vir mense of harde geluide nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….