Nuus 12:00
BULLETIN 26 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan stem teen ‘n mosie van wantroue in die speaker van die Nasionale Vergadering
# Die Lugverkeernavigasiediens worstel met ‘n ernstige tekort aan lugverkeer-beheerders
# En rugby: Anton Segner is die jongste beseerde All Black-speler wat huis toe gaan
# Die DA gaan vandag stem teen die EFF se wantroue-mosie in die speaker van die Nasionale Vergadering. Hoofsweep George Michalakis sê die party was wel baie krities oor hoe Thoko Didiza president Cyril Ramaphosa se aansoek benader het om die ampsklagproses teen hom te stuit. Hy sê hulle stem saam dat ‘n duidelike werwingsbeleid ingestel moet word vir die aanstelling van die sekretaris van die Parlement en alle senior bestuurders:
# Die Lugverkeernavigasiediens worstel met ‘n kritieke vaardigheidskrisis nadat internasionale mededingers soos die Verenigde Arabiese Emirate en Australië talle ervare lugverkeer-beheerders gewerf het. Dit veroorsaak dat belangrike bedrywighede worstel met ‘n tekort aan personeel. Die naderingsbeheer-eenheid op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng, wat ‘n belangrike rol in die bestuur van vlugte speel, werk tans met slegs 57-persent van die vereiste personeel. Die diens het ‘n versnelde werwingsveldtog van stapel gestuur, insluitend deurlopende werwingsadvertensies en doelgerigte werwing van geskikte kandidate.
Die polisie en sy wetstoepassingsvennote het intussen op OR Tambo beslag gelê op twee afsonderlike besendings vermeende kokaïen van ongeveer 200-miljoen-rand. In die eerste voorval is twee groot reistasse by die eindpunt onderskep en 84 kilogram-blokke gevind. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê in die ander voorval is vier houers in die vragafdeling onderskep met 220 blokke van altesaam ongeveer 250-kilogram:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku kritieke voedselstelsels en mense se lewens en voortbestaan word bedreig te midde van verskeie konflikte. Daar was verlede jaar die meeste gewapende konflikte sedert die Tweede Wêreldoorlog en ook van die hoogste vlakke van akute hongersnood wat nog ooit aangeteken is, met minstens 266-miljoen mense wat uiterste voedselonsekerheid ondervind. Guterres sê oorloë en die ontwrigting van sleutel-seeroetes plaas die wêreldvoedselstelsel onder druk:
# Rugby: Die All Black-losvoorspeler Anton Segner is beseer en gaan die res van die Rugby’s Greatest Rivalry-toer deur Suid-Afrika misloop. Hy is laat onttrek aan die wedstrydgroep vir die eerste toets op Ellispark nadat hy oor ‘n geswolle enkel gekla het. Afrigter Dave Rennie sê Segner het ‘n geringe operasie ondergaan en gaan huis toe om daar verder te herstel. Geen plaasvervanger sal opgeroep word nie. Daar is nou reeds vier beseerde All Blacks terug in Nieu-Seeland terwyl nog twee van harsingskudding herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-629-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….