Nuus 12:00
BULLETIN 21 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering was blykbaar onbewus van Iran se deelname aan die omstrede vlootoefening
# Tennis: Carlos Alcaraz en Aryna Sabalenka dring deur na die derde ronde van die Australiese Ope
# En David Kramer en Taliep Petersen kry ereburgerskap van Kaapstad
# President Cyril Ramaphosa en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het volgens berigte eers vroeër die maand in die media kennis geneem van Iran se deelname aan die BRICS-vlootoefening in Valsbaai. News24 berig die besluit om Iran uit te nooi om deel te neem aan die Will for Peace-vlootoefening saam met Suid-Afrika, Rusland en China, is reeds vroeg in November geneem. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, stel ondersoek in waarom Ramaphosa se opdrag dat Iran aan die oefening onttrek, nie nagekom is nie.
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in November verlede jaar met 2,7-persent gedaal in vergelyking met dieselfde maand in 2024. Steenkool, ystererts, platinumgroepmetale en goud het die meeste tot die afname bygedra, terwyl mangaan-erts sterk groei getoon het. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê mineraalverkope het op ‘n jaargrondslag ook effens gedaal met 0,3 persent, met goud, steenkool en ystererts die meeste:
# Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit berig verskeie brandlyne woed steeds op dag vyf in die berge aan die bokant van Franschhoek. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê sterk wind het opvlammings veroorsaak wat van die toerusting beskadig het, maar geen beserings of eiendomsverlies is aangemeld nie. Brandbestryders worstel met uiterste toestande en die publiek is gevra om die betrokke gebiede te vermy. Otto prys die gemeenskap se ondersteuning tydens voortdurende brandbestrydingspogings:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het die Duitser Yannick Hanfmann verslaan om deur te dring na die derde ronde van die Australiese Ope en is steeds op koers na ‘n loopbaan-Grand Slam. Die Rus Daniil Medvedev het Quentin Halys van Frankryk geklop. Aryna Sabalenka van Belarus het haar 25ste Grand Slam-oorwinning as wêreld-nommer-een behaal toe sy die Chinese kwalifiseerder Bai Zhuoxuan verslaan het. Die Brit Emma Raducanu het teen die Oostenryker Anastasia Potapova verloor terwyl Coco Gauff van Amerika met die Serwiër Olga Danilovic afgereken het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-234-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-865-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Burgemeester Geordin Hill-Lewis het Kaapstad se hoogste burgerlike eerbewys, ereburgerskap, toegeken aan twee van sy kulturele ikone, David Kramer en wyle Taliep Petersen. Die toekenning vereer hul kreatiewe prestasies sowel as hul skouspelagtige samewerking vir vertonings soos District Six: The Musical en Kat and the Kings. Hill-Lewis sê die twee is bewaarders van Kaapstad se siel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….