Nuus 12:00
BULLETIN 20 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement bied duidelikheid oor die dodetal in die leerdervervoerbotsing in Vanderbijlpark
# Tshwane se burgemeester sê die meeste uitstaande rekeninge is dié van nasionale en provinsiale regeringsinstellings
# En tennis: Die Australiese Ope se verdedigende kampioen, Madison Keys, swoeg om die tweede ronde te bereik
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die dodetal in gister se leerdervervoer-botsing in Vanderbijlpark is 12 en nie 14 soos voorheen berig nie. Die oorlaaide minibussie het teen ‘n vragmotor gebots toe die bestuurder probeer het om verby te steek. ‘n Saak van strafbare manslag is geopen. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê hoewel krisistye dikwels kan lei tot aannames, veroorsaak die verspreiding van onbevestigde syfers en waninligting onnodige skade:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê as inwoners hul rekeninge moet betaal, moet die regering dit ook doen. Die meeste uitstaande rekeninge is van nasionale en provinsiale staatsinstellings. Die metro het verlede week die kragtoevoer na die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se hoofkantoor afgesny as deel van sy veldtog om agterstallige skuld in te vorder. Moya sê Tshwane maak op inkomste staat om sy diensleweringsmandaat uit te voer:
# Qatar Airlines brei sy dienste na Suid-Afrika aansienlik uit met meer weeklikse vlugte na Kaapstad, Johannesburg en Durban om aan die groeiende vraag te voldoen. Weeklikse vlugte sal toeneem van 35 tot 42, wat groter buigsaamheid bied vir passasiers wat aansluit by die lugredery se uitgebreide internasionale netwerk. Vlugte tussen Johannesburg en Doha neem van 18 Februarie toe van 18 tot 21, tussen Kaapstad en Doha van 17 Februarie van 12 tot 14, en tussen Durban en Doha van 5 Maart van vyf tot sewe.
# Die Laerhuis van Australië se Parlement het wette aanvaar om vuurwapens in dié land van eienaars terug te koop en aansoekers vir vuurwapenlisensies se agtergrond strenger na te gaan. Dit volg op die aanval op Bondi-strand in Desember tydens ‘n Joodse fees waarin 15 mense dood is. Die terugkoopplan geld vir oortollige wapens en wapens wat pas onwettig verklaar is. Die Wet op die Bekamping van Jodehaat, Haat en Ekstremisme is ook aanvaar. Dié land se minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, sê hulle gaan streng optree teen anti-Semitisme:
# Tennis: Die verdedigende vroue-enkelspelkampioen, Madison Keys van Amerika, het hard geswoeg om Oleksandra Oliynykova van Oekraïne te klop in die eerste ronde van die Australiese Ope. Die gewese Amerikaanse Ope-kampioen, Sloane Stephens, is in die eerste ronde uitgeskakel toe sy teen die Tsjeg Karolina Pliskova verloor het. Janice Tjen van Indonesië het met die 22ste-gekeurde Kanadees Leylah Fernandez afgereken. In die mansafdeling het die vyfde-gekeurde Lorenzo Musetti van Italië deurgedring toe die Belg Raphael Collignon in die vierde stel onttrek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-980-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-723-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….