Nuus 12:00
BULLETIN 14 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Onderwysdepartement werk aan die plasing van leerders
# Die Clintons kan van minagting aangekla word nadat hulle weier om in die Epstein-ondersoek te getuig
# En gholf: Bryson DeChambeau, Jon Rahm en Cam Smith bly aan by LIV Gholf
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê die departement werk onverpoosd om die sowat drie-duisend leerders te plaas wat nog nie plek by ‘n skool het nie. Duisende ouers het sedert die begin van die maand die departement se kantore oorval met die hoop om vir hul kinders plek te kry. Chiloane sê 13 van die 26 skole wat gebou word, is byna voltooi en almal behoort teen die einde van die maand in ʼn skool te wees.
Die GOOD-party dring intussen aan dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sewe-duisend-200 graad R-, 1- en 8-leerders in skole moet plaas. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die begin van ʼn nuwe skooljaar kan nie gevier word as so baie kinders uitgesluit is nie. Hy sê ʼn skooljaar wat so begin, is nie ʼn sukses nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige Amerikaanse presidentspaar Bill en Hillary Clinton het geweier om te getuig voor ‘n Republikeins-geleide Kongres-ondersoek na die ontslape pedofiel Jeffrey Epstein. Hulle sê in ‘n brief aan die voorsitter van die Huis van Verteenwoordigers se Toesigkomitee, James Comer, hulle het probeer om die min inligting wat hulle het te voorsien, en beskuldig hom dat hy die fokus verskuif van die Trump-administrasie se optrede. Comer sê die komitee sal volgende week vergader om minagtingsprosedures teen die Clintons te begin, wat moontlik tot strafregtelike aanklagte kan lei.
# Gholf: Die Amerikaner Bryson DeChambeau, Jon Rahm van Spanje en die Australiër, Cam Smith, gaan vanjaar by LIV Gholf aanbly. Dit volg ná Brooks Koepka se aankondiging dat hy die Saoedi-ondersteunde kompetisie na vier seisoene verlaat en na die PGA-toer terugkeer. Smith, wat die Ope in 2022 gewen het, sê hy gaan nog jare by LIV aanbly:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-206-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-623-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die Finse avonturier, Jari Saario, sal na verwagting Vrydag in Kaapstad aankom nadat sy poging om alleen vanaf Kaap Hoorn in Chili na die Moederstad te roei, kortgeknip is toe sy boot omgeslaan en erg beskadig is tydens ‘n hewige storm in die Suid-Atlantiese Oseaan. Die bemanning van die Griekse handelskip Cymona Eagle het tot sy redding gekom. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Reddingskoördineringsentrum is oor die situasie ingelig en het die vaartuig gekontak. Die roete is herlei om Saario te gaan red.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….