Nuus 12:00
BULLETIN 13 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran gaan volgens berigte onttrek aan die omstrede BRICS-vlootoefening by Simonstad
# ‘n Veldbrand in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit woed steeds
# En rugby: ‘n Sterk Springbok-vrouesewespan is gekies vir die Dubai-kwalifiseertoernooi
# Iran is volgens berigte versoek om hom aan die BRICS-vlootoefeninge langs die Suid-Afrikaanse kus te onttrek om ‘n verergering van die diplomatieke spanning met Amerika te voorkom. Twee Iranse skepe het verlede week in die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad aangekom. Oorlogskepe van China, die Verenigde Arabiese Emirate en Rusland neem ook deel aan die oefening. Suid-Afrika het skynbaar gevra dat Iran moet onttrek vanweë die regering se kommer dat sy betrekkinge met Amerika verder kan versleg te midde van voortgesette handelsgesprekke tussen die twee lande.
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê die veldbrand naby Heidelberg in die Hessequa-munisipaliteit woed steeds buite beheer in ‘n ontoeganklike bergagtige landskap. Die woordvoerder, Herman Pieters, sê die noordelike en noordwestelike brandlyne, insluitend die Tradouwpas-gebied tussen Barrydale en Swellendam, bly aktief. Hy voeg by die oostelike brandlyn langs die Grootvadersbosch Natuurreservaat woed ook steeds:
Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se brandweerdiens sê intussen die brand by Wemmershoek naby Franschhoek wat in Langrug ontstaan het, is steeds aktief. Gisternag het opvlammings in sommige gebiede kommer gewek. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê brandbestryding op aktiewe lyne sal vandag voortduur, terwyl monitering en opruimingsbedrywighede voortgesit word in gebiede waar die brand onder beheer is:
Nuus uit die buiteland:
# Marokko en Egipte het verlede jaar geskiedkundige toerismegroei aangeteken en hul status as Afrika se voorste bestemmings herbevestig. Marokko het sowat 19,8-miljoen besoekers verwelkom, ‘n styging van 14-persent vergeleke met 2024, terwyl aankomste in Egipte met 21-persent tot 19-miljoen gestyg het. Die groei word aangedryf deur nuwe internasionale vlugverbindings, groot kulturele besienswaardighede en hoëprofiel-sportgeleenthede. Toerismebeamptes sê die oplewing het werksgeleenthede, buitelandse valuta-verdienste en herstel na die pandemie ‘n hupstoot gegee. Albei lande mik na selfs hoër besoekersgetalle in die toekoms.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewespan se afrigter, Cecil Afrika, het ‘n sterk groep van 12 gekies vir die naweek se bepalende toernooi in die Wêreldrugby-uitdaagreeks in Dubai. Suid-Afrika is in Groep A saam met Thailand, die Tsjeggiese Republiek en Mexiko, en moet die eindstryd haal om na Sewes 2 te vorder. Dis hul volgende stap om weer die Wêreldreeks te bereik. Nadine Roos is kaptein, met haar spanmaats van die 15-speler-formaat, Zintle Mpupha, Bryhandré Dolf en Ayanda Malinga, ook ingesluit. Afrika sê die spelers weet wat op die spel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-937-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-589-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….