Nuus 12:00
BULLETIN 12 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê hy begin 2026 met ’n sterker kragstelsel
# Die Onafhanklike Eksamenraad behaal ‘n slaagsyfer van 98,31-persent in die matriek-eksamen
# En tennis: Daniil Medvedev glo dit gaan moeilik wees om hom op die Australiese Ope te klop
# Eskom se Opwekkingsherstelplan wat in April verlede jaar bekendgestel is, het vier-duisend-400 megawatt by die netwerk gevoeg om bestendigheid en betroubaarheid te verbeter. Die energie-beskikbaarheidsyfer het tot 64,55-persent gestyg, onbeplande kragonderbrekings het tot 16,02-persent gedaal en besparing aan dieselgebruik staan op 16-miljard-rand. Eskom sê beter onderhoud en ‘n afname in die gebruik van noodkragopwekkers dra by tot bestendiger kragvoorsiening, wat beleggersvertroue bevorder en die land se ekonomiese herstel ondersteun.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Brandweerdiens is steeds besig met die bestryding van ‘n brand wat in Langrug ontstaan en na Wemmershoek naby Franschhoek versprei het. ‘n Woordvoerder, Anesca Roodt, sê brandbestrydingspanne, ondersteun deur helikopters en plaaslike munisipaliteite, het gefokus op struktuurbeskerming by Mont Rochelle en die Chamonix-wynlandgoed. Sy sê verskeie opvlammings is onder beheer gebring, en geen beserings of eiendomskade is aangemeld nie. Roodt sê moniterings- en opruimingsoperasies duur voort:
Die burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap, Archie Klaas, sê intussen boere in die omgewing van Pearly Beach en Stanford het aansienlike verliese gely in die onlangse brande. Groot stukke veld het heeltemal afgebrand, wat geen weiding vir vee en wild oorlaat nie. Klaas sê boere wat met beeste, skape en wild boer, staan nou voor ‘n groot uitdaging om hul diere te voer en water te gee in ‘n omgewing waar natuurlike hulpbronne vernietig is. Hy sê gemeenskapsondersteuning is dringend nodig.
# Die Onafhanklike Eksamenraad het ʼn slaagsyfer van 98,31-persent in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal. Dit is effens laer as die 98,47-persent in 2024. Die klas van 2025 spog met ʼn matrikulasievrystelling-koers van 89,12-persent. Altesaam 17-duisend-413 IEB-matrieks het die eksamen afgelê en 161 het onderskeidings in al sewe hul vakke behaal. Die eksamenraad se uitvoerende hoof, Confidence Dikgole, sê in die konteks van volgehoue groei en veranderende leeromgewings is die bestendigheid van hierdie uitslae bemoedigend.
# Tennis: Die driemalige naaswenner van die Australiese Ope, Daniil Medvedev, sê hy glo met sy huidige spelpeil sal dit moeilik wees om hom vanjaar op Melbourne Park te klop. Die Rus het die Amerikaner Brandon Nakashima gister verslaan op die Brisbane-internasionaal om sy 22ste toer-titel te buit. Medvedev erken egter hy is die buiteperd in Melbourne, met Jannik Sinner en Carlos Alcaraz die oorweldigende gunstelinge:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-368-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….