Nuus 12:00
BULLETIN 7 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie verwerp bewerings dat Deokaran se moordondersoek verkeerd hanteer is
# Brittanje en Frankryk beloof om soldate na Oekraïne te stuur indien ‘n vredesooreenkoms met Rusland bereik word
# En krieket: Jacob Bethell se eerste toetshonderdtal gee Engeland hoop in die vyfde toets om die As
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, verwerp bewerings dat die ondersoek na die moord op die verklikker van die Tembisa-hospitaal, Babita Deokaran, verkeerd hanteer is. Die moordenaars is in 2023 skuldig bevind, maar die beplanners is nog nie in hegtenis geneem nie. Cachalia ontken ook bewerings dat Deokaran se tegnologiese toestelle nie behoorlik ontleed is nie. Hy sê die kubermisdaadafdeling binne Misdaadintelligensie het ‘n forensiese ondersoek uitgevoer.
# Die Mosselbaai-munisipaliteit in die Suid-Kaap sê brandbestryders het die reusebrand in Aalwyndal, Island View, Vakansieplaas en omliggende gebiede onder beheer gebring. Die brand wat talle strukture en voertuie verwoes het, het daartoe gelei dat die gebied gister ontruim is. Die N2 was gisteraand ure lank gesluit tussen die afrit na die Langeberg-winkelsentrum en Danabaai in die rigting van Kaapstad weens digte rook, maar is intussen weer oopgestel. Die munisipaliteit sê hulle sal die situasie deur die dag dophou.
# Die Grensbestuursowerheid sê sy beamptes bly vasberade en pro-aktief om Suid-Afrika se grense te beskerm, ondanks beperkte hulpbronne. Die owerheid het gister as deel van sy verskerpte wetstoepassing van die Feestyd-veiligheidsplan verdagtes by die Beitbrug-grenspos onderskep wat probeer het om smokkelsigarette met ‘n straatwaarde van meer as 42-duisend-rand na Suid-Afrika te smokkel. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê die sukses bevestig die toenemende doeltreffendheid van tegnologie-gedrewe ingrypings vir grensbestuur:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Koninkryk en Frankryk het ‘n gesamentlike verklaring onderteken dat hulle soldate in Oekraïne sal ontplooi indien ʼn vredesooreenkoms met Rusland bereik word. Dit volg na gister se vergadering van die Koalisie van Gewilliges in Parys. Rusland het herhaaldelik gewaarsku hulle beskou enige buitelandse soldate in Oekraïne as wettige teiken. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê sy land en Frankryk sal Oekraïne in die langtermyn ondersteun:
# Krieket: Jacob Bethell het Engeland hoop gegee in die vyfde en laaste toets om die As teen Australië toe hy sy eerste toetshonderdtal aangeteken het op die vierde dag in Sydney. Die 22-jarige was onoorwonne op 142 toe die besoekers tot 302 vir agt gevorder het – ‘n voorsprong van 119. Die gashere is vroeër vir 567 uitgeboul, ‘n eerstebeurt-voorsprong van 183, en Bethell het gehelp om die agterstand uit te wis. Hy het vennootskappe van 81 en 102 met Ben Duckett en Harry Brook gedeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-465-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….