Nuus 12:00
BULLETIN 19 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburg se burgemeester sê die beveiling van die middestad kry steeds voorkeur ná die moord op Stocks
# Bedrywighede word tydelik opgeskort op die Sendelingsdrift-grenspos
# En sokker: SAFA maak gereed vir ‘n groot finansiële hupstoot ná Bafana se kwalifisering vir die Wêreldbekertoernooi
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die beveiliging van die middestad kry steeds voorkeur te midde van kommer oor verval en hoë misdaadvlakke. Dit volg op die moord op die mediapersoonlikheid Warrick Stock naby die Carlton-sentrum vroeër die week. Morero het sy naasbestaandes besoek. Sy woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, sê hy het hom weer verbind tot die instelling van maatreëls om misdaad- en wetstoepassingsuitdagings aan te pak, en beklemtoon misdaadvoorkoming is ‘n sleutelfokus:
# Die Grensbestuursowerheid sê bedrywighede is tydelik opgeskort op die Sendelingsdrift-grenspos tussen die Noord-Kaap en Namibië. Dit is as gevolg van verhoogde watervlakke wat veroorsaak is deur aanhoudende reën. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aangekondig daar sal bogemiddelde somerreën in die noordoostelike dele van Suid-Afrika voorkom:
# Die Stad Kaapstad sal weer tegnologie gebruik om wetstoepassing rondom Tafelberg, die middestad, die Bo-Kaap en belangrike strande te ondersteun tydens die feestyd. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê meer as 200 munisipale vredesbeamptes is ontplooi, bygestaan deur die Tegnologie-sentrum, veiligheidshommeltuie en videokameras. Hy sê daar sal ook daaglikse patrollies in bende-geteisterde gemeenskappe wees:
Nuus uit die buiteland:
# Amerikaanse owerhede het die verdagte in Saterdag se massaskietery by Brown Universiteit uitgeken as die Portugese burger Claudio Manuel Neves-Valente. Die 48-jarige is dood aangetref aan ‘n selftoegediende skietwond in ‘n pakkamer in New Hampshire. Twee studente is dood in die aanval en nege beseer. Massachusetts se aanklaer, Leah Foley, sê Valente was ook verantwoordelik vir die moord op professor Nuno Loureiro in Massachusetts, dae na die aanval:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging gaan ‘n groot finansiële hupstoot kry nadat Bafana Bafana vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada gekwalifiseer het. Onder FIFA se uitgebreide prysstruktuur sal elke kwalifiserende land minstens nege-miljoen-rand ontvang, plus voorbereidingsbefondsing, wat altesaam sowat 175-miljoen-rand beloop. Dit is Suid-Afrika se eerste deelname aan die toernooi sedert 2010, en verlig SAFA se finansiële druk, terwyl spelers ook regeringsbonusse sal ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-324-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….