Nuus 12:00
BULLETIN 15 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Australiese premier wil strenger wapenbeheerwetgewing hê ná die dodelike skietery op Bondi-strand
# Nog storms word dié week in Suid-Afrika verwag
# En krieket: Engeland se afrigter sê hulle kan sake omkeer in die derde toets om die As
# Die Australiese premier, Anthony Albanese, gaan druk uitoefen vir strenger wapenbeheerwetgewing na gister se terreurvoorval op Bondi-strand in Sydney. Vyftien mense is dood toe ‘n pa en seun blindweg op mense losgebrand het tydens ‘n Joodse Hanukkah-viering. Australië het reeds van die wêreld se strengste wapenwette, met slegs 31 wapenverwante moorde wat tussen Julie 2023 en Junie verlede jaar aangeteken is. Albanese sê die kabinet gaan strenger wetgewing oorweeg:
# Activists and Citizens Forum is bekommerd oor berigte dat die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag nie openbaar gemaak gaan word nie. President Cyril Ramaphosa het die ondersoek gelas na plofbare bewerings deur KwaZulu-Natal se polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor korrupsie en inmenging in die strafregstelsel. Woordvoerder Dennis Bloem sê Suid-Afrikaners sal nie die besluit aanvaar om die verslag geheim te hou nie:
# Nog storms sal na verwagting hierdie week oor Suid-Afrika woed en swaar reën, sterk wind en moontlike oorstromings word in sommige gebiede verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms oor dele van Noordwes, Limpopo, Gauteng en Mpumalanga. Daar is vandag ʼn 30-persent-moontlikheid van donderstorms oor die sentrale en oostelike binneland. Die diens sê die land ondervind ʼn swak La Niña-seisoen met bogemiddelde reënval, veral oor die sentrale en oostelike dele.
# Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, glo hulle het ʼn goeie kans om die reeks om die As teen Australië om te keer. Die besoekers is met agt paaltjies verslaan in die eerste twee toetse in Perth en Brisbane en het ‘n oorwinning nodig in dié week se derde wedstryd in Adelaide om die reeks van vyf kragmetings te red. McCullum sê hulle sal waarskynlik nie hulle kolforde verander nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-752-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Parlement se portefeuljekomitee oor Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede versoek die publiek en organisasies om kandidate te benoem vir aanstelling as kommissarisse van die Kommissie vir Geslagsgelykheid. Benoemdes moet Suid-Afrikaanse burgers wees met bewese toewyding, kennis en ervaring in die bevordering van geslagsgelykheid. President Ramaphosa sal aanstelling doen op grond van die Parlement se aanbevelings. Aansoeke sluit om middernag op 1 Februarie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….