Nuus 12:00
BULLETIN 24 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Gayton McKenzie se kaderontplooiing maak hom onvanpas om ‘n minister te wees
# Die Wes-Kaapse polisie vra inligting nadat vier verbrande liggame in Du Noon gevind is
# En Akani Simbine, Pieter Coetze en Prudence Sekgodiso is die groot wenners op die SA Sporttoekennings
# Die DA sê die ontplooiing van meer kaders uit die Patriotic Alliance se binnekring na sleutelposte in die Departement van Sport, Kuns en Kultuur toon dat Gayton McKenzie onvanpas is om ‘n minister te wees. Die DA meen minstens 19 senior regeringsposte word deur McKenzie se eie bondgenote gevul. Leah Potgieter van die DA sê die party waarsku lank reeds teen sy skandelike kaderontplooiing:
# Die politieke ontleder Ongama Mtimka vergelyk die ANC se huidige posisie met dié van ‘n sportafrigter met ʼn uitstekende wedstryd-plan, maar sonder die organiserings-vermoë om dit uit te voer. Die party se manifes bevat ses belangrike voorkeur-gebiede gemik op die herstel van openbare vertroue, insluitend aandag aan dienslewerings-probleme. Mtimka het aan Newzroom Afrika gesê ʼn begeerte vir etiese, bevoegde leierskap word uiteengesit, maar die kandidate-kortlys vertel ʼn heeltemal ander storie:
# Die Wes-Kaapse polisie vra inligting wat kan help met die ondersoek na die moord op vier mense wie se verkoolde liggame gister in Du Noon, Kaapstad, ontdek is. Woordvoerder Novela Potelwa sê beamptes is ontbied na die N7-afrit op Malibongwe-rylaan waar hulle die liggame in ‘n oop veld langs die pad ontdek het:
# Die selfoonoperateur MTN-groep het ‘n toename van 21,3-persent in sy halfjaarlikse aangepaste wins aangeteken. Die styging word grootliks toegeskryf aan groeiende intekenaargetalle in die tweede kwartaal en dubbelsyfergroei in diensinkomste. Afrika se grootste telekommunikasie-operateur sê sy aangepaste wesensverdienste per aandeel het in die ses maande tot 30 Junie gestyg tot 793-sent teenoor 654-sent ‘n jaar tevore. Suid-Afrika se hoogs mededingende selfoonmark het MTN SA se binnelandse diensinkomstegroei tot 1,5-persent beperk, met plaaslike intekenaar-syfers wat effens gedaal het tot 39,5-miljoen.
Nou sportnuus:
# Die naelloper en Olimpiese silwermedaljewenner, Akani Simbine, is aangewys as Sportster van die jaar op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes. Die swemmer Pieter Coetze en die middelafstand-atleet Prudence Sekgodiso het onderskeidelik Sportman en Sportvrou van die Jaar gewen. Puseletso Mabote is aangewys as Gestremde Sportman van die Jaar met Simoné Kruger die wenner in die vroue-afdeling. Die Olimpiese silwermedaljewenner, Bayanda Walaza, het die toekenning as Jong Sportster van die Jaar ingepalm. Die Proteas se manstoetskrieketspan is bekroon as Span van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-631-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….