Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister in die Presidensie sê die wetsontwerp oor die NGV kan vóór die verkiesing as wet bekragtig word
# RISE Mzansi sê Ramaphosa se bewering oor ‘n program van sogenaamde regimeverandering is ‘n leuen
# En, krieket: Wolvaardt hoop haar Australiese ondervinding gaan die Proteas in die eendagreeks help
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê president Cyril Ramaphosa kan die Nasionale Gesondheidsversekerings-wetsontwerp voor vanjaar se algemene verkiesing onderteken. Beide huise van die Parlement het die omstrede wetsontwerp aanvaar en die president moet dit nou onderteken. Die doel van die wetsontwerp is eenvormige openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika. Ntshavheni sê ná die lesse van die Covid 19-pandemie moet die NGV-wetsontwerp dringend onderteken word om tydens die sewende administrasie volledig in werking te tree.
# RISE Mzanzi sê Ramaphosa se onlangse opmerkings dat daar ‘n program bestaan om sogenaamde regime-verandering te bewerkstellig, is daarop gemik om vrees te skep en verwarring te veroorsaak. Ramaphosa het onlangs gesê die land se saak van volksmoord teen Israel kan daartoe lei dat buitelandse magte inmeng in die uitslag van vanjaar se verkiesing. Hy het gewaarsku ondersteuners van Israel mag dalk probeer om ‘n regime-veranderding in Suid-Afrika te bewerkstellig. ‘n Woordvoerder van RISE Mzansi. Boitumelo Mpakanyane, sê Ramaphosa se opmerkings is ‘n infame leuen:
# Die Departement van Binnelandse Sake het ‘n opdrag uitgereik wat vereis korttermynbesoekers moet die land verlaat indien hulle nie hernuwings van visums teen 23 Februarie ontvang het nie. Die opdrag het gevolge vir die sogenaamde swaeltjies, wat gewoonlik vir 180 dae aanbly. Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Toerismedienste waarsku teen aansienlike verliese indien besoekers nie teen 29 Februarie die land verlaat nie. Amptenare en belanghebbendes kritiseer die opdrag weens die moontlike ekonomiese gevolge en struikelblokke met prosedure, en vra besinning daaroor.
# Europese boere het strate versper, motorbande aan die brand gesteek en eiers gegooi in Brussel toe leiers van die Europese Unie in die Belgiese hoofstad vergader het. Die betogings is die jongste in ‘n week van verset in die groepering teen wat die boere beskou as duur regulasies en goedkoper invoere. Trekkers is ook gebruik om kruisings in Frankryk te versper. Die EU het vroeër die week ‘n paar tydelike maatreëls aangekondig om die spanning te verlig wat die afgelope maand in Europa opgebou het.
# Krieket: Die tafel is gedek vir ʼn opwindende kragmeting op die Adelaide Oval wanneer die Protea-vrouespan Australië môre in die eerste van drie internasionale eendagwedstryde takel. Die onlangse T20-reeks tussen die twee spanne was baie mededingend en het met twee-een in die tuisspan se guns geëindig. Die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, speel vir die Adelaide Strikers in die vroue se Big Bash-liga in Australië. Sy sê haar ervaring van die plaaslike toestande sal hopelik waardevol wees vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-27-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-55-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….