Nuus 12:00
BULLETIN 9 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg verwerp ‘n aansoek om 40-persent van Makate se ‘Please Call Me’-uitbetaling te bevries
# ‘n Medalje van 1995 se Wêreldbekertoernooi word opgeveil
# En Suid-Afrikaners word aangemoedig om die verbintenis tot eenheid te verdiep in Versoeningsmaand
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n dringende aansoek verwerp van ‘n derdeparty-befondser, Black Rock Mining, om 40-persent van Vodacom se skikking aan ‘Please Call Me’ se uitvinder, Kenneth Makate, te bevries. Regter Don Mahon het beslis daar is geen bewyse dat Makate beplan om die geld weg te steek of te verkwis nie, en sê enige geskil moet deur die gewone regskanale verloop. Black Rock het Makate se regskoste befonds in ruil vir ‘n aandeel van 40-persent. Die saak word nou verwys vir arbitrasie.
# ‘n Ekonoom van die Nelson Mandela Universiteit, Andrew Phiri, sê die Reserwebank se nuwe inflasieteiken van drie-persent is veral gemik op die beskerming van armes. Dit beteken die einde van ‘n raamwerk van 25-jaar van drie- tot ses-persent. Phiri sê Suid-Afrika groei nie vinnig genoeg om die nuwe teiken sonder moeite te behaal nie, en swak groei maak ‘n strenger teiken moeiliker om te handhaaf. Hy sê ‘n lae inflasieteiken is veronderstel om armer huishoudings te help, maar as dit nie werk nie, ly hulle die meeste daaronder.
# Forum for South Africa sê organisasies soos AfriForum en Solidariteit moet gestraf word omdat hulle leuens oor die land in Amerika versprei. Die drukgroepe wie se besoeke aan Amerika die afgelope maande opslae in die media gemaak het, word beskuldig dat hulle met buitelandse magte saamwerk om Suid-Afrika se soewereiniteit te ondermyn. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, stel voor AfriForum en Solidariteit se status as burgerregtebewegings word opgehef en hulle word strafregtelik aangekla omdat hulle volgens hom die staat aanval:
# Rugby: ‘n Goue medalje van 1995 se Wêreldbekertoernooi word vandag opgeveil. Dit behoort aan die voormalige Springbok-losvoorspeler Adriaan Richter, wat dit ontvang het na Suid-Afrika se oorwinning van 15-12 oor die All Blacks in die eindstryd op Ellispark. Hy het nie in die wedstryd gespeel nie, maar was deel van die kampioenspan, onder andere as kaptein van Suid-Afrika in hul groepoorwinning oor Roemenië, en het twee drieë teen Kanada gedruk. Die Old Johannesburg Warehouse Auctioneers het ‘n beginprys van 30-duisend-rand bepaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-525-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-188-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Die regering vra Suid-Afrikaners om in Versoeningsmaand hul verbintenis tot eenheid, herstel, vergifnis en nasiebou te verdiep. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi, sê as verlenging van die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie, gaan die regering voort met die toepassing van programme om maatskaplike samehorigheid en demokratiese deelname te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….