Nuus 12:00
BULLETIN 5 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die burgerlike samelewing verwelkom ‘n hofbevel oor die beskerming van pasiënte in Johannesburgse klinieke
# Krieket: Die Protea-vroue is gereed vir die T20-reeks teen Ierland
# En die rand breek deur die vlak van 17-rand teen die dollar
# Die burgerlike samelewing het die Hooggeregshof in Johannesburg se uitspraak verwelkom wat pasiënte by die stad se klinieke beskerm. Die hof het die staat gelas om veilige en onbelemmerde toegang tot openbare gesondheidsorg te verseker na die saak wat deur onder meer Treatment Action Campaign en Dokters Sonder Grense aanhangig gemaak is. Vigilante-groepe het sedert September klinieke ontwrig, veral in Yeoville en Rosettenville. Owerhede word gelas om ongemagtigde persone te verwyder en voldoende sekerheidsmaatreëls te ontplooi. Die uitspraak bevestig die grondwetlike reg op gesondheidsorg vir almal en onmiddellike staatsoptrede.
# Die stadsraad van Kaapstad het ‘n nuwe spoorwegsakeplan en sy langtermynvisie 2050 goedgekeur. Die stad gaan met die nasionale regering saamwerk om die spoorweë oor te neem en dit die hoof- openbare vervoermiddel te maak. Die plan mik vir 75-persent reise met openbare vervoer, met nuwe roetes, opgegradeerde stasies en bekostigbare behuising naby spoorwegspilpunte. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Visie-2050 fokus ook op veiliger strate, skoon energie, watersekerheid, omgewingsbeskerming en die groei van die stad se ekonomie.
# Die Departement van Binnelandse Sake verleng sy kantoorure voor die feestyd om Suid-Afrikaners te help om noodsaaklike dokumente te bekom. Van Maandag tot 19 Desember en weer van 5 tot 16 Januarie sal kantore om 6 namiddag in plaas van 4-uur sluit vir aansoeke en die afhaal van slim identiteitskaarte en paspoorte. Minister Leon Schreiber spoor mense aan om die verlengde ure te benut om te verseker reisdokumente is gereed vir die feestyd:
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, sê die span is gereed en vol energie vir hulle kragmeting met Ierland wanneer die eerste van drie T20s vanmiddag in Kaapstad gespeel word. Dis Suid-Afrika se eerste wedstryd sedert hulle verlede maand in die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi teen Indië verloor het. Die reeks is deel van die voorbereiding vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker in Engeland en Wallis. Wolvaardt verwag ‘n uitdagende reeks:
# En geldsake: Die rand het gister die eerste keer in meer as twee jaar tot onder die weerstandsvlak van 17-rand teenoor die dollar versterk. Die geldeenheid se herstel word aangedryf deur ‘n kombinasie van ‘n swakker Amerikaanse dollar en positiewe plaaslike ontwikkelings. Beleggersvertroue is versterk deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se verbintenis tot ‘n laer inflasieteiken en ‘n verbeterde fiskale vooruitsig. Don Consultancy Group se hoofekonoom, Chifipa Mhango, sê die versterking weerspieël binnelandse beleidsmomentum sowel as minder wêreldwye dollar-druk. Randsterkte verlaag onmiddellik invoerkoste en verlig dollar-skuld.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-92-sent teen de dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-71-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-224-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….