Nuus 12:00
BULLETIN 4 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kerkleier se borgtog-aansoek is uitgestel te midde van deurlopende ondersoeke
# Amerika se minister van Buitelandse Sake sê die land gaan voort met ‘n nuwe G20
# En gholf: Nuwe uitdagings wag op deelnemers by Sun City
# Die Pretoriase Gespesialiseerde Handelshof het die saak teen die leier van die Internasionale Pinkster-Heiligheidskerk, Michael Sandlana, tot 6 Maart uitgestel. Hy was nie gereed om met sy borgtogaansoek voort te gaan nie. Sandlana en drie ander, insluitend ‘n regter van die Hooggeregshof in Pretoria, Portia Phahlane, staan tereg op 19 aanklagte van korrupsie. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Sandlana bly in aanhouding, terwyl die ander drie onder streng voorwaardes op borgtog vrygelaat is:
Die DA in die Wes-Kaap sê intussen die regering moet onmiddellike en bepalende stappe doen om almal by howe se veiligheid te verseker. Twee mense is Dinsdag buite die Landdroshof in Athlone, Kaapstad, doodgeskiet. Dit volg na ‘n voorval op 5 September toe ʼn man buite dieselfde hof doodgeskiet is. Benedicta van Minnen van die DA sê howe moet veilige ruimtes bly sodat die reg sonder vrees of gevaar toegepas kan word:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Amerika se G20-presidentskap sal die wêreld vorentoe neem met vernuwing, entrepreneurskap en deursettingsvermoë. Amerika het Maandag amptelik die presidentskap by Suid-Afrika oorgeneem. Rubio sê hulle beoog om ‘n G20 te bou wat weerspieël Amerika word eerste gestel terwyl hy vennote met soortgelyke ekonomiese en politieke waardes verwelkom. Hy sê terwyl die wêreldekonomie aangevuur word deur tegnologiese veranderings soos kunsmatige intelligensie en ideologiese bekommernisse rondom groen energie afskud, is Amerika bereid om die voortou te neem.
# Gholf: Die Gary Player-buiteklub by Sun City in Noordwes sal verskeie uitdagings bied in die jaarlikse Nedbank-Gholfuitdaagtoernooi wat vandag begin. Dit volg na ‘n aantal veranderinge wat waarskynlik die uitslag kan raak. Toernooidirekteur Ken Payet sê die 90-jarige Player was regstreeks betrokke by die veranderinge. Hy sê hulle wil ‘n wonderlike skouspel sowel as ‘n uitdaging vir die deelnemers bied. Vanjaar se prysgeld is ‘n yslike 102-miljoen rand, waarvan die wenner 17,5-miljoen in sy sak sal steek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-120-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-74-sent per vat.
# En laastens: Die Momentum-versekeringsmaatskappy moedig Suid-Afrikaners ten sterkste aan om gedurende die feestyd meer versigtig geld uit te gee om finansiële druk volgende maand te vermy. Therèse Havenga van Momentum sê Desember-feesvieringe lei dikwels tot oorbesteding, wat gesinne laat sukkel wanneer skoolgeld, debietorders en stygende koste die begin van die nuwe jaar moeilik maak. Sy raai die publiek aan om perke op geskenke en uitstappies te stel, ‘n gedeelte van bonusse te spaar, en betekenisvolle, laekoste-tradisies te kies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….