Nuus 12:00
BULLETIN 3 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê Amerika se pogings om Suid-Afrika van die G20 uit te sluit is onwettig
# Drie mense sterf in ‘n vermeende bendeskietery in Mitchells Plain, Kaapstad
# En rugby: Die dissiplinêre paneel het glo nog nie ooreenstemming bereik oor Etzebeth se straf nie
# Saftu sê Amerika se dreigement om Suid-Afrika van die G20 uit te sluit, is ‘n polities gemotiveerde dwangmaatreël en nie ʼn prosedurele besluit nie. Suid-Afrika is nie na hierdie maand se eerste G20-sjerpavergadering onder Amerika se presidentskap in Washington genooi nie. President Donald Trump van Amerika het verlede week gesê hy sal nie Suid-Afrika uitnooi na die leiersberaad wat in Desember volgende jaar in Miami gehou word nie. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê alle G20-lidlande moet die lukrake uitsluiting verwerp:
# Die Kaapstadse polisie ondersoek gisteraand se vermeende bendeverwante skietery in Rocklands, Mitchells Plain, waartydens ‘n negejarige seun en twee volwassenes dood is. Vier gewapende mans het glo skote gevuur na ‘n huis in Viscountstraat voor hulle ingegaan en aanhou skiet het. ‘n Een-en-twintigjarige vrou en ‘n 26-jarige man is saam met die kind dood, terwyl twee mans in die hospitaal opgeneem is. Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, het die skietery veroordeel en gevra die skuldiges moet vinnig aangekeer word.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het sy oproep herhaal vir ‘n omvattende hersiening van die Fiskale Raamwerk vir Plaaslike Regering en befondsingsmeganismes. Dit volg op die Nasionale Tesourie se uitreiking van die 2025/26-Mediumtermyn Inkomste- en Uitgawe-raamwerk. Lerato Phasha van Salga sê dis duidelik dat bedryfstekorte ‘n uitdaging vir munisipaliteite inhou, omdat uitgawes na verwagting inkomste sal oorskry. Phasha sê belangrike koste-aandrywers sluit in stygende elektrisiteits- en watertariewe, dalende invordering van betalings en ‘n stygende salarisrekening:
Nuus uit die buiteland:
# Maleisië se Ministerie van Vervoer het bevestig dat die soektog na die vermiste Vlug MH370 van die Maleise lugredery op 30 Desember hervat. Die vliegtuig het op 8 Maart 2014 tussen Kuala Lumpur en Beijing van radarskerms verdwyn met 239 mense aan boord. Die vorige soektog is in Maart weens gure weerstoestande afgestel. Die Amerikaans-gebaseerde robotika-maatskappy, Ocean Infinity, sal die soektog vir 55 dae voortsit. Die ministerie sê hy is daartoe verbind om afsluiting te bied aan die gesinne wat deur die tragedie geraak word.
# Rugby: Wêreldrugby se dissiplinêre paneel kon volgens berigte nie ooreenstemming bereik oor watter straf die Springbok-slot Eben Etzebeth moet kry nie. Dit volg op sy rooikaart vir kontak met die flank Alex Mann se ooggebied in Suid-Afrika se verwoestende oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff verlede naweek. Die drie paneellede het glo bykomende tyd versoek te midde van berigte van ‘n groot meningsverskil oor die erns van die straf. Etzebeth sal dalk eers Sondag weet wat sy lot is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-206-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….