Nuus 12:00
BULLETIN 2 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC kon nie daarin slaag om die SAKP te oortuig om nie onafhanklik aan volgende jaar se verkiesing deel te neem nie
# Airbus Airbus sê die meeste van die ses-duisend herroepte A320-vliegtuie is nou aangepas
# En Andrew word formeel gestroop van sy laaste oorblywende koninklike titels
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle kon nie die SAKP oorreed om sy besluit te heroorweeg om onafhanklik aan volgende jaar se plaaslike verkiesing deel te neem nie. Die SAKP sê dis omdat die ANC versuim om hom tot die hersamestelling van die alliansie te verbind. Die ANC het voorheen gesê hy sal nie SAKP-ministers en adjunkministers verwyder wat onder die ANC-vaandel dien nie. Mbalula sê egter die kwessie van dubbele lidmaatskap sal moontlik heroorweeg moet word:
# Cosatu sê die sukses van die MIV-voorkomingsmiddel, Lenacapavir, se bekendstelling moet met doeltreffende bewusmakingsveldtogte gepaard gaan om die publiek oor die beskikbaarheid in te lig. Lenacapavir is ‘n nuwe, langwerkende antiretrovirale middel wat twee keer per jaar ingespuit word en ses maande se beskerming per dosis bied. Dit sal vroeg volgende jaar beskikbaar wees. Cosatu se woordvoerder, Nonzuzo Dlamini, sê volgens kliniese proewe is Lenacapavir veilig en byna 100-persent doeltreffend om MIV te voorkom:
Nuus uit die buiteland:
# Die meeste Airbus-vliegtuie het normale bedrywighede hervat nadat sagtewareveranderinge baie vinnig voltooi is. Verskeie lugrederye van Asië tot Amerika het ‘n kits-sagteware-aanpassing uitgevoer wat deur Airbus beveel is nadat kwesbaarheid vir sonvlamme opgemerk is tydens ‘n onlangse voorval op ‘n JetBlue A320-vlug. Airbus sê die aanpassing op die meeste van sy ongeveer ses-duisend A320-vliegtuie is voltooi, met minder as 100 vliegtuie wat nog hersien moet word.
# Gimnastiek: Amerika se beheerliggaam en die Amerikaanse SafeSport-sentrum verwag ʼn regsgeding nadat twee gimnaste beweer het hulle is seksueel misbruik in die Chow-gimnastiek- en dansinstituut in Iowa. Albei organisasies is glo in Desember 2017 ingelig oor afrigter Sean Gardner se onbehoorlike gedrag, maar het versuim om dit behoorlik te ondersoek, hom by die polisie te verkla of sy afrigters-bevoegdheid op te skort. Gardner word ook aangekla van kinderpornografie omdat hy glo ʼn versteekte kamera in ʼn badkamer geplaas het om sy studente af te neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-210-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-8-sent per vat.
# En laastens: Andrew Mountbatten-Windsor is formeel gestroop van sy laaste koninklike titels. Koning Charles het gelas dat sy broer se lidmaatskap van die Orde van die Kousband hom ontneem word. Hy het dit in 2006 ontvang. Andrew se rolle in die koningshuis is beëindig weens groeiende kommer oor sy verbintenis met die ontslape veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein. Andrew hou steeds die rang van vise-admiraal van die Koninklike Vloot, maar die minister van Verdediging, John Healy, het reeds gesê dit word heroorweeg tesame met Buckingham-paleis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….