Nuus 12:00
BULLETIN 28 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê die ekonomiese uitwerking van die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika sal binne ‘n jaar duidelik wees
# Solidariteit vra regeringsingryping teen reuse-afleggings in die ferrochroombedryf
# En rugby: Erasmus sê die baie voorspelers op die bank vir die wedstryd teen Wallis was nie deel van sy oorspronklike plan nie
# Aluma Capital se hoof-ekonoom, Frederick Mitchell, sê die ekonomiese gevolge van die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika sal waarskynlik binne 12 tot 24 maande duidelik word. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het dié week verklaar Suid-Afrika sal nie genooi word na volgende jaar se G20-leiersberaad in Florida nie weens beweerde volksmoord teen Afrikaners. Mitchell sê Suid-Afrika staan voor ‘n kritieke kruispad – of hy binne die G20-raamwerk moet bly of nuwe weë moet baan in internasionale handelsnetwerke. Hy sê die behoefte aan uitgebreide vennootskappe is belangriker as ooit.
# Solidariteit vra die regering om ‘n gefokusde benadering te volg om kwesbare werknemers in die ferrochroombedryf te red. Samancor Chrome is die jongste onderneming wat beplan om vroeg volgende jaar met ‘n afleggingsproses te begin. Bykans twee-duisend-496 werknemers kan geraak word deur ‘n moontlike sluiting of die afskaling van verskeie bedrywighede. Gideon du Plessis van Solidariteit sê die onderneming kan dit nie meer bekostig om verliese te ly terwyl hy wag vir regeringsverligting in die vorm van verlaagde kragtariewe nie:
# Die DA sê hy het verskeie keer al probeer om uit te vind waar belangrike artefakte van die Stad Johannesburg bewaar word, naamlik die burgemeester-ketting en die regimentswaard. Dit is veronderstel om veilig in die bank te wees. Bongani Nkwanyana van die DA sê ‘n oorsigbesoek wat twee weke gelede moes plaasvind, is weens vae en onoortuigende redes uitgestel. Volgens hom sê die speaker van die raad hy het die ampsketting in Oktober gesien, maar ander raadslede kan dit nie bevestig nie:
Nuus uit die buiteland:
# Amnestie Internasionaal sê Israelse owerhede is steeds besig met volksmoord teen Palestyne in Gaza, ondanks die Amerikaans-bemiddelde skietstilstand tussen Israel en Hamas wat op 10 Oktober van krag geword het. Volgens die organisasie is minstens 347 mense, insluitend 136 kinders, sedertdien dood in Israelse aanvalle. Amnestie Internasionaal beweer ondanks ‘n daling in aanvalle is daar geen betekenisvolle verandering in die toestande in Gaza nie en geen aanduiding dat Israel se doelwitte verander het nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê as hy ʼn volledige groep gehad het, sou hy nie ʼn verdeling van 7-1 op die bank gekies het vir môre se kragmeting met Wallis nie. Albei spanne moet sonder eerstekeuse-spelers klaarkom omdat die wedstryd buite die toetsgleuf val. Die skrumskakel Cobus Reinach, wat die enigste agterspeler op die bank is, kan moontlik die 50ste keer vir die nasionale span uitdraf. Erasmus sê hulle het maar ʼn dobbelsteen gegooi omdat hulle net 24 spelers het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-170-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-161-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….