Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng is bekommerd oor gekaapte maatskaplike behuising in Springs
# Betogings ontwrig Oos-Kaapse mediese inrigtings
# En nuus van die Olimpiese Spele: Slegs 300-duisend toeskouers mag die openingseremonie langs die Seine bywoon
# Die DA in Gauteng sê die Reguleringsowerheid vir Maatskaplike Behuising het kapers toegelaat om die broodnodige ontwikkeling van 118-miljoen-rand in Springs, Ekurhuleni, oor te neem. Dit laat inwoners sukkel om bekostigbare huur-behuising te vind. Die Sondela-ontwikkeling wat uit meer as 400 eenhede bestaan, verval nadat dit deur onwettige verhuurders gekaap is. Mervyn Cirota van die DA sê baie eenhede word deur misdaadsindikate beheer wat leë eenhede oorneem, huurders daarin plaas en die huurgeld vat:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê ses mediese inrigtings werk tans met die minimum personeel. Dit is omdat gesondheidswerkers sedert Dinsdag nie by die werk kan uitkom nie weens betogings wat paaie in Mbizana versper. Inrigtings wat geraak word is die Meje-gemeenskaps-gesondheidsentrum, en die Daliwonga-, Mpetsheni-, Mandengane-, Khanyayo- en Baleni-kliniek. Woordvoerder Mkhululi Ndamase sê inwoners wat mediese aandag en ambulanse nodig het, kan ook nie by die mediese geriewe uitkom nie:
# Die Grondwetkenner en hoogleraar, Pierre de Vos, sê dit is duidelik die Universiteit Stellenbosch kon nóg nie daarin slaag om die toksiese uitsluitingskultuur in sommige koshuise uit te roei nie, met sommige wit inwoners en alumni wat aktief weerstand bied teen só ‘n stap. Tekeninge wat blykbaar seksuele aanranding uitbeeld, swart kappies en ’n giftige mengsel van lynolie en aalwynkristalle is in twee kamers by die universiteit se oudste manskoshuis, Wilgenhof, ontdek. De Vos sê beslissende en radikale stappe is noodsaaklik om dié voortslepende giftige kultuur uit te wis.
# Nuus van die Olimpiese Spele: Die Franse regering het bekendgemaak daar is ‘n beperking op die aantal toeskouers by die openingseremonie van die Spele in Parys, as gevolg van kwessies soos sekerheid en ander organisatoriese uitdagings. Slegs 300-duisend mense sal op die oewers van die Seine toegelaat word wanneer die plegtigheid op 26 Julie op bote op die beroemde rivier plaasvind. Die minister van Binnelandse Sake, Gerald Darmanin, sê 100-duisend kaartjies is reeds verkoop vir plekke met die beste uitsig, terwyl nog 200-duisend toeskouers gratis toegang tot die boonste oewer sal hê.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-127-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-40-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-23-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Range Rover wat eens aan die ontslape koningin Elizabeth behoort het, is te koop. Die donkerblou voertuig met ivoorkleurige leerbekleedsel is doelgemaak vir koninklike gebruik. Dit is ook toegerus met ʼn wysiging wat die voertuig makliker toeganklik maak. Dis in 2017 verkoop en die nuwe eienaar bied dit nou te koop aan vir 5,3-miljoen-rand − met dieselfde registrasienommer wat die koningin gebruik het. Die verkoopsman, Jack Morgan-Jones, het aan Sky News gesê enigeen kan ‘n nuwe Ferrari aanskaf, maar nie elkeen kan die koningin se voertuig koop nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….