Nuus 12:00
BULLETIN 25 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste verskerp veiligheidsmaatreëls in die Kgoši Mampuru-gevangenis voor “Cat” Matlala se getuienis
# Drie mense sterf en 16 is beseer in ‘n Oekraïense hommeltuigaanval op die suide van Rusland
# En die aktivis Greta Thunberg word uit Venesië verban na sy die Groot Kanaal groen kleur
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê veiligheidsmaatreëls is aansienlik verskerp in die Kgoši Mampuru-gevangenis in Tshwane voor die sitting van die Parlement se ad hoc-komitee wat getuienis van Vusimuzi “Cat” Matlala sal aanhoor. Hy is verhoorafwagtend op verskeie aanklagte, insluitend sameswering om moord te pleeg. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, het aan Newzroom Afrika gesê streng maatreëls is getref om die veiligheid van die komiteelede te verseker:
# Die DA het ‘n parlementslid van die MK-party, Duduzile Zuma-Sambudla, by die Parlement se Etiekkomitee verkla. Dit volg nadat haar suster, Nkosazana Bongamini Zuma-Mncube, haar en nog twee mense daarvan beskuldig het dat hulle ‘n rol gespeel het om 17 jong Suid-Afrikaanse mans onder valse voorwendsels na Rusland te laat reis, waar hulle gedwing is om in die oorlog teen Oekraïne te veg. Chris Hattingh van die DA sê die party gaan ook ‘n strafregtelike saak teen Zuma-Sambudla by die polisie aanhangig maak:
Drie mense is intussen dood en minstens 16 beseer tydens ‘n grootskaalse Oekraïense hommeltuigaanval op die suide van Rusland. Privaat wonings is volgens berigte beskadig in die Swartsee-hawe Novorossiysk en nabygeleë stede. Die Russiese Ministerie van Verdediging berig 249 Oekraïense hommeltuie is oornag afgeskiet, insluitend 116 oor die Swartsee en 92 oor die Krasnodar-streek. ‘n Senior Oekraïense amptenaar sê intussen Rusland het vroeg vanoggend ‘n hommeltuigaanval op Kiëf afgevuur wat brande in minste twee woonstelgeboue veroorsaak het. Een persoon is dood.
# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff is nog ‘n geleentheid vir jonger spelers om indruk te maak. Albei spanne speel sonder verskeie eerstekeuse-spelers omdat die wedstryd buite die internasionale gleuf val. Die Bokke het sover die seisoen 11 van hul 13 toetse gewen, terwyl Wallis slegs twee van hul tien wedstryde kon wen. Human sê die afwesigheid van sekere spelers sal nie die span ontwrig nie omdat hulle gereeld wedstrydgroepe roteer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-89–sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-411-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
# En laastens: Die Sweedse aktivis Greta Thunberg is uit Venesië verban nadat sy die water in die Groot Kanaal groen gekleur het uit verset teen die COP30-klimaatsberaad. Beeldmateriaal wys verskeie heldergroen-gekleurde kanale, riviere, mere en fonteine in tien verskillende Italiaanse stede. In Venesië het betogers rooi klere gedra om hul ontevredenheid uit te spreek omdat ooreenkomste op die beraad in Brasilië nie beperkings op die gebruik van fossielbrandstowwe ingesluit het nie. Thunberg is met drie-duisend-rand beboet en vir 48-uur uit Venesië verban.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….