Nuus 12:00
BULLETIN 21 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika herroep oudminister Naledi Pandor se visum
# Die Presidensie sê Ramaphosa gaan nie die G20-presidentskap aan ‘n junior Amerikaanse diplomaat oorhandig nie
# En krieket: Starc neem sewe paaltjies en help boender Engeland uit vir 172 in die eerste toets om die As
# Die Amerikaanse Department van Buitelandse Sake het die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, se visum herroep. Sy is ‘n meervoudige besoekersvisum vir korttermynverblyf in Amerika toegestaan nadat sy verlede jaar uit die politiek getree het. Pandor is tans voorsitter van die Nelson Mandela-stigting en sê sy die Amerikaanse konsulaat het haar hierdie week in ‘n e-pos in kennis gestel oor die besluit, sonder dat redes verskaf is. Pandor se mees onlangse besoek aan Amerika was hierdie week.
Die Presidensie sê intussen Suid-Afrika sal nie die G20-presidentskap aan die Amerikaanse Chargé d’Affaires, Marc Dillard, oorhandig nie. Dillard word beskou as ‘n junior ambassade-amptenaar. President Cyril Ramaphosa het gister aangekondig Washington heroorweeg sy besluit om nie die naweek se G20-leiersberaad by te woon nie. Die Withuis ontken dit en sê Amerika sal nie aan enige besprekings deelneem nie. Dillard sal wel Sondag die oorhandigingseremonie as formaliteit bywoon.
# Die Vryheidsfront Plus kritiseer die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe oor sy advertensie vir twee internskappe vir junior navorsingsassistente. Wynand Boshoff van die party sê die advertensie lui onder andere dat slegs swart, gekleurde, Indiese en Chinese Suid-Afrikaanse burgers oorweeg sal word. Boshoff sê die advertensie kom neer op regstreekse diskriminasie, aangesien alle burgers mag aansoek doen mits hulle nie wit is nie:
# Die Departement van Onderwys het die publiek genooi om skriftelik kommentaar te lewer op die gepubliseerde veranderinge aan die skoolkalender wat in 2028 begin. Die nasionale beleid vir die Vasstelling van kalenders van staatskole meld belangrike verandering oor hoe skoolkwartale, vakansies en nasionale kalenders van 2028 en verder saamgestel sal word. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê die voorgestelde veranderings verwyder alle opeenhopings, verspreiding en verskillende lengtes van vakansies wat beteken dat al die provinsies dieselfde kalender sal volg:
# Krieket: ‘n Onspeelbare Mitchell Starc het sewe paaltjies vir 58 lopies geneem toe Australië Engeland vir net 172 uitgeboender het op die eerste dag van die eerste toets om die As in Perth. Engeland se kaptein, Ben Stokes, het die loot gewen op ‘n volgepakte Perth-stadion en besluit om te kolf, maar die besoekers het nie antwoorde gehad vir Starc se aanslag nie. Harry Brook se 52 en Ollie Pope se 46 was die enigste noemenswaardige tellings toe Engeland se laaste paaltjie kort na middagete getuimel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-212-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-47-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….