Nuus 12:00
BULLETIN 20 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekonome is verdeeld oor die Reserwebank se finale rentekoersbesluit vir 2025
# Trump en Vance word nie na Cheney se begrafnis genooi nie
# En rugby: Kolbe sê die Bokke moet hul geleenthede teen Ierland gebruik
# Ekonome is verdeeld oor of die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee die terugkoopkoers op sewe-persent sal hou of verlaag. Die komitee sal na verwagting vanmiddag sy finale rentekoersbesluit vir die jaar aankondig. Inflasie het in Oktober tot 3,6-persent gestyg, net bo die 3,4-persent in September. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en sekere ekonome verwag ‘n verlaging van 25-basispunte, maar die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê toekomstige bewegings sal afhang van inflasieneigings en wêreldwye ekonomiese toestande.
Intussen het die vakverbond Cosatu die bank gevra om werkers en die ekonomie ‘n blaaskans te gee en die terugkoopkoers vandag met minstens 50-basispunte te verlaag. Die terugkoopkoers is op die komitee se vorige vergadering in September op sewe-persent behou. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê verhogings in die terugkoopkoers het oor die jare die lewe vir miljoene werkers ondraaglik gemaak:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê die wêreld se 20 grootste ekonomieë sal in 2030 met slegs 2,9-persent groei te midde van uitdagings rakende handelsversperrings en beleidsonsekerheid. Dit is die swakste mediumtermyn-vooruitsigte sedert die wêreldwye finansiële krisis van 2009. Die fonds sê die G20 se gevorderde ekonomieë – Amerika, Brittanje, Australië, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan en Suid-Korea – sal na verwagting slegs 1,4-persent ekonomiese groei toon teen 2030. Die G20 se opkomende markekonomieë, insluitend Suid-Afrika, Argentinië, Brasilië, China en Indië, behoort ‘n sterker groei van 3,9-persent te toon.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, en visepresident JD Vance is nie genooi om vandag die voormalige visepresident, Dick Cheney, se begrafnis in die Nasionale Katedraal in Washington by te woon nie. Die Cheney-gesin het ‘n bitter verhouding met die Republikeinse president en het sy Demokratiese teenstander, Kamala Harris, ywerig ondersteun in die laaste presidentsverkiesing. Oudpresidente George W Bush, onder wie Cheney gedien het, en Joe Biden sal teenwoordig wees, sowel as Harris en ander voormalige visepresidente Mike Pence, Al Gore en Dan Quayle.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê hulle sal Saterdag in Dublin ten volle gebruik moet maak van geleenthede om punte aan te teken teen Ierland. Suid-Afrika het Ierland laas in 2012 op die Aviva-stadion geklop en Saterdag se kragmeting bied ʼn kans om na 13 jaar weer sukses te behaal in die Ierse hoofstad. Kolbe verwag ʼn fisiese wedstryd en beklemtoon hulle sal moet aanpas by die scenario’s wat op die veld uitspeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-en-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….