Nuus 12:00
BULLETIN 14 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gift of the Givers vra president Ramaphosa om Binnelandse Sake te ondersoek oor die weiering van toegang aan 153 Palestyne
# Rugby: Die All Blacks se kaptein is terug vir die kragmeting met Engeland
# En Suid-Korea stop alle vlugte terwyl meer as 500-duisend kandidate ‘n universiteits-toelatingseksamen aflê
# Gift of the Givers vra president Cyril Ramaphosa om Binnelandse Sake en die Grensbestuursowerheid te ondersoek nadat 153 Palestynse reisigers gister toegang tot die land geweier is op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Stigter Imtiaz Sooliman sê die owerheid het opgetree ingevolge sy mandaat om passasiers sonder ‘n geldige vertrek-stempel toegang te weier. Hy sê egter Israel het hierdie arme mense se paspoorte doelbewus nie gestempel nie om hul lyding in ‘n vreemde land te vererger:
Global Airways sê intussen hulle het alle protokolle gevolg voor hulle geland het met die Palestyne wat vlugtelingstatus in Suid-Afrika vra. Hulle is eers toegelaat om af te klim nadat Gift of the Givers hulle verblyf aangebied het. Global Airways sê hulle het vooraf die passasierslys gedeel en is nooit in kennis gestel dat hulle nie toegelaat sou word nie.
# Die onderwysersvakbond Sadou sê hy veroordeel wat hy noem die vals en opruiende bewerings van Amerika se president, Donald Trump, en minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio. Volgens berigte sê Trump en Rubio Afrikaners is slagoffers van volksmoord en hul grond en plase word onwettig afgeneem. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle beskou die vals bewerings as polities opportunisties en bedoel om rassevrees en -skeiding vir politieke voordeel te gebruik:
# Rugby: Scott Barrett is weer fiks en sal die All Blacks aanvoer in môre se ontmoeting met Engeland op Twickenham. Hy het verlede naweek se toets teen Skotland op Murrayfield misgeloop nadat hy ‘n diep sny aan sy knie opgedoen het in die vorige wedstryd teen Ierland. Barrett se terugkeer beteken die belowende slot Josh Lord keer terug na die bank, terwyl Leicester Fainga’anuku vir Caleb Clarke op linkervleuel vervang. Clarke kon nie ‘n kopbeseringstoets slaag nie na ‘n stamp tydens die oorwinning oor Skotland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-177-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: Meer as ‘n halfmiljoen mense het gister Suid-Korea se uitmergelende universiteits-toelatingseksamen afgelê terwyl die polisie ontplooi is om te verseker dat hulle betyds by toetslokale aankom. Dis die meeste mense in sewe jaar wat die toets aflê. Vlugte is ‘n halfuur lank gestaak by alle lughawens om te verseker dat daar geen steurnisse is tydens die luisterbegrips-afdeling van die Engelse toets nie. Honderd-en-veertig vlugte is geraak, insluitend 65 internasionale aankomste en vertrekke. Die eksamen van nege-uur word beskou as noodsaaklik vir sukses in die hoogs-mededingende samelewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….