Nuus 12:00
BULLETIN 12 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibiya se vriend Stuart Scharnick open ‘n lastersaak teen die hoof van Misdaadintelligensie
# SA Geloofsgemeenskappe beloof regstappe teen die verlenging van Koeberg se lisensie
# En die Chinese vervaardiger BAIC gaan vroeg volgende jaar sportnutsvoertuie begin monteer in Gqeberha
# Die beleërde adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, se vriend, Stuart Scharnick, het ‘n saak van meineed en laster aanhangig gemaak teen die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo. Dit volg na Khumalo se getuienis voor die Madlanga-kommissie, waar hy Scharnick ‘n reeks-kaper genoem en hom met misdaadsindikate verbind het. Scharnick het vanoggend buite die Pretoria Sentraal-polisiestasie aan die media gesê Khumalo het geen intelligensie-bewyse om sulke lasterlike stellings teen hom te maak nie:
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut oorweeg regstappe teen die Nasionale Kernreguleerder se besluit om ‘n lisensieverlenging van 20-jaar toe te staan aan die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad se eenheid twee. Francesca de Gasparis van die omgewingsgroep waarsku dat die goedkeuring kritieke veiligheidsgapings oor die hoof sien, insluitend verouderde inperkingstoetse, nie-funksionele moniteringstelsels en die afwesigheid van getoetste noodplanne vir nabygeleë gemeenskappe. De Gasparis beloof om alle regsmoontlikhede te volg om die reguleerder aanspreeklik te hou:
# Die toonaangewende Chinese motorvervaardiger BAIC kan reeds in Januarie sy nuwe B30-veldren-nutsvoertuig begin monteer in sy fabriek in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die finansiële hoof, Anele Geza, het aan Reuters gesê die model met ‘n brandstofenjin asook hibriede modelle sal met behulp van ‘n afgeskaalde produksieproses aanmekaargesit word. Dit gebruik baie klein onderdele om voertuie te monteer, met verhoogde plaaslike inhoud. Multinasionale motorvervaardigers, insluitend Toyota en Ford, het gepleit vir verhoogde plaaslike produksie deur nuwelinge ten einde die plaaslike motorbedryf te beveilig en plaaslike inhoud te verhoog.
Nuus uit die buiteland:
# Tientalle inheemse betogers het die vergadersaal van die COP30-klimaatsberaad in Belem, Brasilië, binnegestorm en met veiligheidswagte gebots. Die woedende betogers het toegang geëis tot die Verenigde Nasies se kompleks waar duisende afgevaardigdes van lande reg oor die wêreld die beraad bywoon. Sommige het vlae met slagspreuke gedra wat grondregte eis, aandring op woudbeskerming, en sê: “Ons grond is nie te koop nie”. ‘n Vooraanstaande inheemse leier het aan Reuters gesê baie van die inheemse gemeenskappe is ontsteld oor die voortgesette nywerheids- en ontwikkelingsprojekte in die Amasone-streek.
# Motorsport: Die uitvoerende en spanhoof, Toto Wolff, onderhandel glo om ‘n deel van sy aandeel in Mercedes se Formule Een-span te verkoop. Die ooreenkoms waardeer Mercedes op ʼn rekord-bedrag van 104-miljard-rand. Wolff besit ‘n derde van die span. Hy beplan volgens berigte om ʼn buite-belegger te nader wat ʼn aandeel van sowat vyf-persent sal koop terwyl die 53-jarige Wolff in sy rolle aanbly. Mercedes het van 2014 tot 2021 agt agtereenvolgende vervaardigerstitels gewen en is vanjaar tweede ná 21 wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-23-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….