Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM sê Ramaphosa se administrasie misluk om korrupsie hok te slaan
# Cosatu veroordeel die geheimhouding in die KPMG- en VBS Bank-skikking
# En, tennis: ‘n Agentskap appelleer teen die besluit om ‘n Britse speler vry te spreek oor opkikkers
# Die African Transformation Movement sê Hoofstuk 9-instellings moet bemagtig word om korrupsie te takel sonder om terug te deins. Suid-Afrika het tot 41 gedaal op die korrupsie-aanwyser, wat die laagste ooit is. ATM se nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, sê Transparency International se bevindings dui aan dat korrupsie in die land nie net diepgewortel is nie, maar toegelaat word om te gedy. Ntshona sê dit ondermyn president Cyril Ramaphosa se veelbesproke nuwe dagbreek:
# Die vakbondfederasie Cosatu veroordeel ten sterkste die geheimhouding rondom die skikking buite die hof tussen die finansiële instelling KPMG en die likwidateurs van VBS Mutual Bank. Die federasie is bekommerd dat die vertroulike aard van die skikking werkers en gemeenskappe die deursigtigheid ontsê wat nodig is om die volle omvang van die finansiële wanbestuur en korrupsie by VBS te verstaan. Matthew Parks van Cosatu eis die onmiddellike openbaarmaking van die skikkingsbesonderhede om aanspreeklikheid te verseker en openbare vertroue te herstel. Parks vra verpligte ouditeur-rotasie om moontlike korrupsie te voorkom.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het die dood veroordeel van ‘n 12-jarige meisie wat gister in Beacon Valley, Mitchells Plain in Kaapstad, in kruisvuur tussen strydende bendes beland het. Volgens die polisie het die meisie vir skoolvervoer gewag toe ʼn dwaalkoeël haar getref het. Sy is op die toneel dood. Allen sê die barbaarse mense wat by haar dood betrokke was, moet dringend vasgetrek word:
# Die DA in Gauteng sê hy is diep teleurgesteld oor die toestand van skole in die provinsie. Dit volg nadat die party gister ʼn onverwagte oorsigbesoek aan onwettig geboude skole in die provinsie gebring het. Sergio Dos Santos van die DA sê hulle het die besoek onderneem ná berigte dat sommige skole in Tshwane sonder die munisipaliteit se wete of goedkeuring gebou is:
# Tennis: Die Integriteitsagentskap vir Internasionale Tennis gaan appelleer teen die besluit van ʼn onafhanklike tribunaal, om die Britse speler, Tara Moore, vry te spreek nadat sy positief getoets het vir opkikkers. Die land se voorste dubbelspeler is in Mei 2022 voorlopig geskors nadat sy tydens ʼn toernooi in Colombië positief getoets het vir twee middels. Die tribunaal het haar verduideliking aanvaar dat besmette vleis die oorsaak was, en bevind sy was nie skuldig of nalatig nie. Die agentskap se appèlaansoek sal later voor die Hof vir Arbitrasie in Sport dien
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-948-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….