Nuus 12:00
BULLETIN 11 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hoërisiko-polisiespan kom saam met die uitgelewerde Nzimande-broers in Suid-Afrika aan
# Die DA vra die Nasionale Vervolgingsgesag om op te tree teen Prasa-hoofde wat by twyfelagtige kontrakte betrek word
# En rugby: Lood de Jager moet vandag verduidelik na sy rooikaart teen Frankryk
# ‘n Hoërisiko-polisiespan het op die King Shaka-lughawe in KwaZulu-Natal aangekom met die uitgelewerde Nzimande-broers. Siyabonga en Malusi Nzimande word van moord aangekla. Hulle het vanoggend onder swaar bewaking vanaf die King Mswati Internasionale Lughawe in Eswatini vertrek. Hulle staan tereg op verskeie moordaanklagte, onder andere op die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het die uitlewering verwelkom en bevestig dat die broers na verwagting nog vandag in die hof sal verskyn:
# Die DA vra die Nasionale Vervolgingsgesag om streng op te tree teen ses gewese uitvoerende hoofde van die Passasierspooragentskap wat betrek word by onregmatige kontrakte van 2,8-miljard-rand tussen 2010 en 2019. Volgens ‘n verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid het hierdie persone kontrakte gesluit sonder om die regte verkrygingsprosesse te volg. Dit sluit sekerheids-ooreenkomste van 1,6-miljard-rand in. Chris Hunsinger van die DA sê die NVG moet beslissend optree om aanspreeklikheid te verseker:
# Die regering van Botswana, wat 15-persent van De Beers besit, wil die meerderheidsbelang in die Suid-Afrikaanse diamantmynreus verkry. Anglo American verkoop sy hele belang van 85-persent om hoofsaaklik op sy skoonenergie-metaalkoper te fokus. Botswana se president, Duma Boko, het in sy staatsrede in Gabarone gesê De Beers dra 70-persent by tot die land se jaarlikse ru-diamantproduksie. Hy beskou die maatskappy as ‘n strategiese nasionale bate. Boko sê Botswana wil sy mynbousektor uitbrei met diamante wat ‘n belangrike bydraer tot groei sal bly.
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers beplan om reeds môre oor die Senaat-goedgekeurde korttermyn-regeringsbefondsingswetsontwerp te stem, sodat president Donald Trump dit in werking kan stel. Die wetsontwerp, wat befondsing vir sommige regeringsagentskappe vir die res van die fiskale jaar sal verskaf, is met ‘n 60-40-stemverdeling in die Senaat aanvaar. Byna al die Republikeine het by agt Demokrate aangesluit om die wetsontwerp goed te keur. Die minderheidsleier in die Huis, Hakeem Jeffries, sê hulle sal aanhou veg om die subsidies van die Wet op Bekostigbare Sorg verleng te kry:
# Rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager verskyn vandag voor ‘n dissiplinêre paneel na sy omstrede permanente rooikaart teen Frankryk verlede naweek. Hy is net voor rustyd afgestuur nadat sy skouer die Franse heelagter Thomas Ramos se kop getref het, maar die Bokke het steeds ‘n oortuigende oorwinning van 32-17 behaal. Sommige kenners meen dit moes ‘n 20-minuut rooikaart gewees het, want Ramos het gesak net voor De Jager hom getref het. Skeidsregter Angus Gardner is uiteindelik deur sy hulpskeidsregters oortuig om De Jager permanent af te stuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-en-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-131-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….