Nuus 12:00
BULLETIN 7 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Malusi Gigaba gee hom oor aan die polisie
# Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde lê beslag op elektroniese toestelle van die geskorste minister van Polisie
# En Israel voer swaar lugaanvalle uit op die suide van Libanon
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het homself aan die Pretoriase polisie oorgegee in verband met voortgesette ondersoeke na korrupsie by Transnet. Gigaba was tussen 2010 en 2014 minister van Openbare Ondernemings. Dit was ‘n tydperk waartydens die berugte Gupta-familie en hul medewerkers na bewering beduidende invloed uitgeoefen het op groot Transnet-kontrakte, insluitend ‘n lokomotief-transaksie van 54-miljard-rand. Gigaba sê hy het volle vertroue in die howe, want hulle is die forum waar feite seëvier en nie fiksie nie.
Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde het intussen beslag gelê op vyf elektroniese toestelle wat aan die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, behoort. Dis deel van ‘n ondersoek na beweerde politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel. Mchunu se woordvoerder, Sthembiso Mshengu, het aan Newzroom Afrika gesê die minister werk ten volle saam en bly verbind tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Hy sê die aard en inhoud van die ondersoeke is steeds onduidelik, en hou vol dat Mchunu deursigtigheid wil hê:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê brandbestryders het daarin geslaag om teen gisteraand al vyf brande wat hulle beveg het, onder beheer te bring. Brande is aangemeld in Waterval buite Tulbagh, naby die stortingsterrein buite Wellington, Paarl-vallei, buite Pniël, en in die berge bokant Zolani in Ashton. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand buite Wellington het laat gisteraand weer opgevlam, maar die Drakenstein-munisipaliteit het dit hanteer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Israeliese Weermag het swaar lugaanvalle op die suide van Libanon uitgevoer na ontruimingsbevele vir verskeie plekke en sê die Libanese gewapende groep Hezbollah probeer sy militêre vermoëns daar herbou. Dit het gevolg ondanks ‘n wapenstilstandooreenkoms ‘n jaar gelede tussen Israel en die Irans-gesteunde Hizbollah. Vrese in Libanon neem toe dat Israel volskaalse lugaanvalle kan hervat, veral na waarskuwings van Israelse leiers dat hulle teen Hizbollah sal optree indien Libanon nie pogings verskerp om die groep te ontwapen nie.
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, se uitstekende vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi in Indië het haar bo-aan die ranglys van eendagkolwers geplaas. Sy het honderdtalle aangeteken in die halfeindstryd teen Engeland en die eindstryd teen die gasvroue, wat Suid-Afrika met 52 lopies verloor het. Wolvaardt het altesaam 571 lopies in die toernooi gemoker – die meeste in ‘n enkele toernooi. Sy het daarmee vir Smriti Mandhana van Indië verbygesteek. Ash Gardner van Australië is derde, die Engelse kaptein Nat Sciver-Brunt vierde, en Beth Mooney, ook van Australië, vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-537-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-7-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….