Nuus 12:00
BULLETIN 4 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie bevestig die omstrede sakeman Brown Mogotsi het ‘n sluipmoordpoging oorleef
# Die GOOD-party kritiseer Gary Player se standpunt oor swart ekonomiese bemagtiging
# En die Australiese sampioen-moordenaar Erin Patterson appelleer teen haar skuldigbevinding
# Die polisie het bevestig die omstrede sakeman Brown Mogotsi het gisteraand ‘n skietvoorval oorleef in Vosloorus aan die Gautengse Oos-Rand. Volgens voorlopige inligting is verskeie skote op sy voertuig gevuur, maar hy het ongedeerd daarvan afgekom. Mogotsi word daarvan beskuldig dat hy betrokke was by beweerde medepligtigheid tussen politici, die polisie en georganiseerde misdaad. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle het ‘n saak van poging tot moord geopen:
# COPE sê die naweek se vergadering van die regering van nasionale eenheid het nie die dringende en toenemende probleme van gewone Suid-Afrikaners regstreeks bespreek nie. President Cyril Ramaphosa het ‘n tweedaagse geleentheid in Gauteng aangebied waar die leiers van politieke partye hulle toewyding aan die koalisieregering herbevestig het. COPE se waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê die regering se leierskap het gekies om voorkeur te gee aan die oorlewing van mag bo die oorlewing van mense:
Die GOOD-party sê intussen kritiek teen die staat se instelling van grondhervormings- en swart ekonomiese bemagtigingsbeleid is geregverdig, maar om die behoefte aan hervormende beleide teen te staan, is iets anders. Die bekende Suid-Afrikaanse gholfspeler Gary Player het gevra vir die dringende herroeping van die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging, omdat dit volgens hom ‘n beduidende hindernis is om beleggings na Suid-Afrika te lok. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Player moes sy politieke sienings vir homself gehou het:
Nuus uit die buiteland:
# Die veroordeelde Australiese moordenaar Erin Patterson het amptelik appelleer teen haar skuldigbevinding. Die 51-jarige is in September gevonnis tot lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool vir 33-jaar. Dit volg op die moord op drie familielede en poging tot moord op nog ‘n persoon nadat sy hulle in 2023 giftige sampioene voorgesit het in haar huis in die staat Victoria. Die gronde vir haar appèlaansoek is nie bekend nie. Patterson het tydens haar verhoor deurgaans volgehou sy is onskuldig en alles was net ‘n verskriklike ongeluk.
# Rugby: Nieu-Seeland sal sonder sy kaptein, Scott Barrett, en sy broer Jordie moet klaarkom in Saterdag se toets teen Skotland op Murrayfield in Edinburgh. Scott het verlede naweek ‘n sny aan sy been opgedoen in die derde minuut van hulle oorwinning van 26-13 oor Ierland in Chicago, wat steke moes kry. Jordie het ‘n enkelbesering opgedoen in die wedstryd. Fabian Holland en Josh Lord sal waarskynlik op slot begin, met Sam Darry en Samipeni Finau die ander moontlikhede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 29-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-171-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….