Nuus 12:00
BULLETIN 3 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se grootste privaatskoolgroep denoteer waarskynlik die einde vanjaar van die JSE
# Minister Manamela erken die bedanking van NSFAS se voorsitter, Karen Stander
# En minstens 20 mense is dood na ‘n kragtige aardbewing in die noorde van Afganistan
# Suid-Afrika se grootste privaatskoolgroep, Curro Holdings, wag op goedkeuring van die Mededingingskommissie en die Johannesburgse Aandelebeurs om te denoteer. Dit volg nadat aandeelhouers ‘n uitkoopaanbod van 7,2-miljard-rand van die miljardêr-filantroop Jannie Mouton se stigting aanvaar het. Die transaksie sal na verwagting teen einde vanjaar voltooi wees, waarna Curro ‘n organisasie sonder winsbejag sal word. Die groep is in 1998 gestig en het minstens 180 kampusse met meer as 70-duisend leerders. Die stigting wil langtermyn- maatskaplike uitwerking bo korttermynwinste stel, wat moontlik beurse vir duisende minderbevoorregte kinders kan ontsluit.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die bedanking van Karen Stander as voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente formeel erken. Manamela ontmoet Stander vandag om haar bekommernisse te bespreek, onder meer boelies, intimidasie, rassisme en veiligheidsbedreigings, gevolg deur ‘n volle raadsvergadering môre. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê Manamela is diep bekommerd oor die bewerings en beklemtoon dat NSFAS etiese, deursigtige en verantwoordbare bestuur moet handhaaf:
# Die Stad Tshwane sê hy stel ondersoek in na die bron van toenemende ingewandskoors-gevalle in Hammanskraal en Bronkhorstspruit. Dit volg te midde van openbare kommer oor watergehalte in die metro. Talle gevalle is die afgelope tyd by die Jubilee-hospitaal in Hammanskraal en die Bronkhorstspruit-hospitaal aangemeld waar 13 pasiënte behandel is. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê voorlopige uitslae van drinkwater wat getoets is, kon nie ‘n epidemiologiese skakel tussen hierdie gevalle bevestig nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Kragtige aardbewing met ‘n sterkte van 6.3 het die noorde van Afganistan vroeg vanoggend getref. Minstens 20 mense is dood en meer as 320 beseer. Die middelpunt was naby een van die digsbevolkte stede in die noorde van die land, Mazar-i-Sharif. Geboue is beskadig, onder meer die bekende landmerk, die Blou Moskee. Die perseel is een van Afghanistan se argitektuurskatte en ‘n belangrike bestemming vir pelgrims. Gesondheidsbeamptes sê die dodetal sal waarskynlik styg namate reddingspogings voortduur.
# Krieket: Die regering het die Protea-vroue gelukgewens met hul uitsonderlike vertoning in gister se Wêreldbeker-eindstryd teen Indië. Dit was die mede-gasvroue se eerste titel nadat hulle Suid-Afrika met 52 lopies geklop het in Mumbai. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, sê die Proteas kan trots wees op hul vertoning, want hulle het vasberadenheid, vaardigheid en veggees getoon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-271-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-13-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….