Nuus 12:00
BULLETIN 30 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Koeberg se eenheid een is suksesvol herkoppel aan die nasionale netwerk
# Die Rooi Kruis sê Orkaan Melissa is ‘n ramp van ongekende omvang
# En rugby: Jan-Hendrik Wessels se skorsing word met een week verkort
# Eskom sê hulle het eenheid een van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad weer aan die nasionale netwerk gekoppel. Die eenheid is vroeg vanjaar gesluit vir die tweede fase van hul langtermyn-bedryfsonderhoudsprogram, ‘n vereiste van hul 20-jaar lewensduurverlenging wat deur die Nasionale Kernreguleerder toegestaan is. Eenheid een en eenheid twee sal na verwagting meer as een-duisend-860-megawatt lewer. Eskom sê dis ‘n bewys van hul toewyding om die kragsentrale veilig, betroubaar en doeltreffend te bedryf.
AfriForum sê intussen in plaas van om die energiesektor te reguleer en te verseker daar word wetlik opgetree, misbruik die Nasionale Energiereguleerder nou munisipaliteite. Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in die organisasie se saak teen Nersa se goedkeuring van die instel van munisipale elektrisiteitstariewe sonder deeglike kostestudies of openbare deelname. Deidré Steffens van AfriForum sê Nersa is nou ‘n skoothondjie in plaas van ‘n waghond waar dit munisipaliteite aanbetref:
# Die Stad Tshwane se Nooddienste maan inwoners om versigtig te wees met swaar reën wat vandag in groot dele van Gauteng verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak twee-waarskuwing vir hewige donderstorms uitgereik. Woordvoerder Nana Radebe-Kgiba sê daar is ‘n 60-persent kans op reën wat met sterk wind gepaard gaan:
Nuus uit die buiteland:
# Die Rooi Kruis sê vroeë aanduidings is dat Orkaan Melissa in die Karibiese Eilande ‘n ramp van ongekende omvang is. Alexander Pendry van die Britse Rooi Kruis sê nuus word ontvang dat hele gemeenskappe onder water is en sterk wind verwoesting gesaai het. Noodspanne mobiliseer reg oor die streek terwyl Melissa sy pad van verwoesting deur Kuba, die Dominikaanse Republiek en Haïti voortsit. Pendry verduidelik die onmiddellike noodsaaklikhede is soek-en-reddingspogings en om te verseker mense het toegang tot gesondheidsorg, veilige skuiling, skoon water, voedsel en ander noodsaaklike voorrade.
# Rugby: Die Springbok- en Bulle-stut, Jan-Hendrik Wessels, se appèl teen sy skorsing van nege weke het misluk, maar dis wel met een wedstryd verkort. Hy is gestraf nadat Connacht se flank, Josh Murphy, hom beskuldig het dat hy hom twee weke gelede betas het tydens ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd. ʼn VRK-appèlpaneel het bevind die tugpaneel het fouteer met die skorsing van nege weke en nie Wessels se gedrag in ag geneem nie. Hy sal die Springbokke se jaareindtoer en die Bulle se twee Kampioenebeker-wedstryde teen Bordeaux en Northampton misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-956-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-969-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….