Nuus 12:00
BULLETIN 29 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘Please Call Me’ se ontwikkelaar betwis die regskoste-bevel van 13-miljoen-rand
# Rugby: Die Bok-afrigter het volle vertroue in die nuweling-stut Zachary Porthen
# En David Kramer en Taliep Petersen kry ereburgerskap van Kaapstad
# Die ontwikkelaar van Please Call Me, Nkosana Makate, betwis ‘n regskostebevel van 13-miljoen-rand nadat hy in die Konstitusionele Hof teen Vodacom verloor het. Die koste hou verband met ‘n enkele dag se betoë nadat die hof in Vodacom se guns beslis en die saak terugverwys het na die Appèlhof. Makate noem die bevel onbillik en oordrewe, en verwys na sy verdediging teen twee afgekeurde aansoeke. Die geskil vorm deel van ‘n langdurige vergoedingstryd van miljarde rand oor die idee.
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê die staalsektor gaan vinnig agteruit, wat ernstige kommer oor die ekonomie laat ontstaan. Die aantal werkgewers het oor die afgelope vyf jaar met 12-persent gedaal en indiensneming met 23-persent, wat beteken 110-duisend mense het hul werk verloor. Gerhard Papenfus van NEASA gee hoë lone, regeringsinmenging, hoë tariewe, misdaad, korrupsie en swak infrastruktuur die skuld. Hy doen ‘n beroep vir beslissende leierskap om verdere werkverliese te voorkom en die sektor te laat herleef.
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die Barcelona-verklaring oor tuberkulose onderteken. Dit is Suid-Afrika se formele verbintenis tot ‘n hernude wêreldwye parlementêre beweging om TB binne ‘n geslag uit te roei. Die ondertekeningseremonie het saamgeval met die amptelike bekendstelling van die Suid-Afrikaanse TB-parlementêre koukus. Meer mense het tot dusver aan TB gesterf as enige ander aansteeklike siekte in die geskiedenis. Didiza sê TB bly steeds ‘n gesondheidsuitdaging hoewel dit ‘n behandelbare siekte is en parlementslede pleit vir groter pogings om die siekte te help uitwis.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy het volle vertroue in die stut Zachary Porthen. Die 21-jarige is gereed om Saterdag die eerste keer vir Suid-Afrika uit te draf in die toets teen Japan op Wembley in Londen. Die voormalige SA Onder-20-kaptein het slegs in vyf senior wedstryde vir die Stormers gespeel – vier vanaf die bank en een in die opdrafspan. Erasmus sê Porthen gaan senuagtig wees, maar hy sal fisies gereed wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-328-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-ses-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Twee kultuur-ikone van Kaapstad, David Kramer en wyle Taliep Petersen, gaan die metro se hoogste burgerlike eerbewys, ereburgerskap, ontvang. Die twee word vereer vir hulle talle kreatiewe prestasies soos die teater-meesterstukke, District Six: The Musical en Kat and the Kings. Die toekenningsgeleentheid vind in Januarie plaas. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kramer en Peterson het daarin geslaag om vermaak te vermeng met maatskaplike kommentaar en aktivisme:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….