Nuus 12:00
BULLETIN 19 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela ontplooi ‘n span om die onrus by die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie op te los
# Die GOOD-party sê Mark Burke van die DA moet van die Parlement se finansieskomitees verwyder word
# En rugby: Die All Blacks se verdedigingsafrigter sê hulle kan nie deur die Bokke se voorspelers oorweldig word nie
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, vra ‘n dringende gesprek tussen die bestuur en raad van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie en studenteleiers. Gister se brandstigtingsvoorval op die kampus in Bellville het ‘n algehele sluiting veroorsaak en koshuise is ontruim. Dit volg op betogings oor voorgestelde veranderings aan die befondsingsmodel en registrasie-vereistes. Woordvoerder Matshepo Seedat sê Manamela veroordeel die vernietiging van universiteits-eiendom, asook geweld en intimidasie:
# Die GOOD-party sê die DA-parlementslid Mark Burke is nie geskik om in die Parlement se finansiële toesigkomitees te dien terwyl sy maatskappy aan ‘n regulatoriese ondersoek onderworpe is nie. Burke se maatskappy, Kastelo, word na bewering gekoppel aan die verskuiwing van miljarde-rand na die buiteland. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, vra Burke moet verwyder word van komitees wat toesig hou oor die Nasionale Tesourie, die Suid-Afrikaanse Reserwebank en openbare finansies:
Die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het intussen ‘n waarskuwing gerig oor tekortkominge in die verslagdoening van sterftes in gevangenisse nadat slegs 54,5-persent van onnatuurlike sterftes en 51,59-persent van natuurlike sterftes gedurende die eerste kwartaal van die huidige boekjaar bevestig kon word. Voorsitter Kgomotso Ramolobeng sê die syfers dui op ernstige gapings in toesig- en administrasie. Sy sê die kommer volg op kritiek in Februarie toe ‘n ondersoek bevind het die helfte van alle onnatuurlike gevangene-sterftes was selfdood. Dit lig tekortkominge in rekordhouding en geestesgesondheidsorg uit.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie het sanksies ingestel teen die president van die Internasionale Strafhof, Tomoko Akane, en ‘n senior verhooradvokaat, Abdoulaye Seye. Sanksies is vroeër ingestel teen nog nege hofamptenare. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, beskuldig hul van regstreekse betrokkenheid by pogings om amptenare van regerings wat nie die hof se jurisdiksie erken nie, te ondersoek, in hegtenis te neem of te vervolg. Die sanksies bevries al hul bates in Amerika en beperk Amerikaanse ondernemings en instellings om sake te doen met hulle.
# Rugby: Die All Blacks se verdedigingsafrigter, Tana Umaga, sê hulle kan nie bekostig om oorweldig te word deur die Springbokke se reuse-pak voorspelers en van hul agterlyn-bedreiging vergeet nie. Die eerste toets vind Saterdag op Ellispark plaas. Umaga is nou vir ses wedstryde in die rol en staan gemiddeld 23 punte per wedstryd af. Hy sê hulle weet wat om van die Bokke te verwag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-224-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-360-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….