Nuus 12:00
BULLETIN 30 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sit sy afwaartse neiging op die korrupsie-aanwyser voort
# Die DA versoek die onttrekking van ‘n kennisgewing vir nuwe kernkragverkryging
# En, Joni Mitchell gaan die eerste keer op die Grammys optree
# Suid-Afrika het nog twee punte gedaal tot 41 op 2023-korrupsie-aanwyser. Dis die land se laagste telling ooit. Die aanwyser gee aan 180 lande en gebiede in die wêreld punte volgens hulle waargenome korrupsievlakke in die openbare sektor. Suid-Afrika is een van 23 lande wat vanjaar hulle laagste telling ooit bereik het en val nou in die kategorie vir gebrekkige demokrasieë. Corruption Watch se uitvoerende direkteur, Karam Singh, sê die stryd vir geregtigheid en stryd teen korrupsie gaan hand aan hand, want waar die regstelsel nie die oppergesag van die reg afdwing nie, gedy korrupsie.
# Die DA eis dat die bepaling in die Staatskoerant oor die verkryging van tweeduisend-500 megawatt kernkrag vir Suid-Afrika onmiddellik herroep word. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het die Departement van Minerale Bronne en Energie onder minister Gwede Mantashe opdrag gegee om met ‘n regverdige, deursigtige, bekostigbare en mededingende proses vir die verkryging van kernkrag te begin. Kevin Mileham van die DA sê die bepaling wat Vrydag verskyn het is onreëlmatig:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het planne aangekondig om spesialiste toe te wys aan skole wat swak presteer om te help om hul matriekprestasie te verbeter. Die besluit volg nadat een van die skole ‘n slaagsyfer van slegs 35,9-persent behaal het. Die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, het aan Newzroom Afrika gesê hulle beoog om geteikende ondersteuning te bied aan skole wat uitdagings ervaar ten einde verbeterde onderwysuitkomste te verseker:
# Rugby: Die losskakel Marcus Smith kan dalk Saterdag Engeland se eerste Sesnasies-wedstryd teen Italië misloop. Dit volg nadat hy na gister se oefening mank geloop en later met krukke opgemerk is. Smith se besering beteken Steve Borthwick se span het moontlik net twee losskakels oor – George Ford en die nuweling Fin Smith. Engeland moet reeds sonder Manu Tuilagi, Ollie Lawrence en Anthony Watson klaarkom, wat almal beseer is. Die aanvals-afrigter, Richard Wigglesworth, sê dit sal ‘n terugslag vir die span wees as Smith nie gereed en fiks is nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-449-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-38-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die sangeres en liedjieskrywer, Joni Mitchell, sal op die ouderdom van 80 die heel eerste keer op vanjaar se Grammy-toekennings optree. Sy is veral bekend vir haar treffer, Big Yellow Taxi, en is ‘n benoemde in die kategorie Beste folk-album vir haar 2023 regstreekse album, Joni Mitchell at Newport. Die negemalige Grammy-pryswenner moes weer leer loop, praat en kitaar speel nadat sy in 2015 ‘n byna dodelike brein-aneurisme opgedoen het. Die Grammys vind Sondag in Los Angeles plaas en die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah sal die aanbieder wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….