Nuus 12:00
BULLETIN 24 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA vra die hoofregter om ondersoek in te stel na bewerings teen regter Ledwaba
# ‘n Ekonoom sê Suid-Afrika se groei word belemmer deur strukturele probleme in energie en werkskepping
# En Trump se keuse vir ambassadeur in Suid-Afrika gaan druk op die regering plaas oor teenstrydige beleide
# Die Forum for South Africa vra hoofregter Mandisa Maya om bewerings teen die waarnemende Gautengse regterpresident, Aubrey Ledwaba, te ondersoek. Getuie A het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het by ‘n informant gehoor dat 2,5-miljoen-rand geoormerk is om borgtog vir die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe te verseker. Die getuie het egter nie geweet of die geld vir Ledwaba of die staatsaanklaer bedoel was nie. Tebogo Mashilompane van die forum sê die ondersoek moet ook ʼn leefstyloudit insluit:
# Die globale versekeringsmaatskappy, Coface, sê sonder diep en volgehoue hervormings sal Suid-Afrika se groeimoontlikhede altyd beperk bly. Hy voorspel vanjaar ʼn groeikoers van 0,8-persent en 1,3-persent in 2026. Coface se ekonoom vir Afrika, Aroni Chaudhuri, sê Suid-Afrika word gekniehalter deur twee groot strukturele beperkings: die mislukking van die energiestelsel en diep verwringing in die arbeidsmark:
# Amerika se aangewese ambassadeur na Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê een van sy vernaamste take sal wees om besware oor te dra oor Suid-Afrika se geo-strategiese wegbeweeg van onverbondenheid na Amerika se mededingers soos Rusland, China en Iran. Hy het behoorlik onder skoot gekom tydens sy bevestigingsverhoor voor die Senaat se komitee vir Buitelandse Betrekkinge. Bozell sê hy sal ook druk plaas op Suid-Afrika om sy saak teen Israel in die Internasionale Strafhof te laat vaar:
# Gimnastiek: Indonesië sê hy het besluit om Israelse atlete van die wêreldkampioenskap in Jakarta te verbied ter wille van openbare orde, veiligheid en die openbare belang. Die Israelse atlete is visums geweier weens die oorlog in Gaza. Die Internasionale Olimpiese Komitee het daarna alle internasionale sportfederasies aangemoedig om geen byeenkomste aan te bied in die Asiatiese land met die wêreld se grootste Moslem-meerderheid nie. Indonesië se minister van Sport, Erick Thohir, sê die besluit is gegrond op die land se Grondwet en sy verpligting om wêreldorde te handhaaf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-884-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-58-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-53-sent per vat.
# En laastens, vier olifante is opgemerk naby Zutshwa in die Kgalagadi-streek in Botswana, net 70-kilometer vanaf die Kgalagadi-oorgrenspark op die grens met die Noord-Kaap. Dis die naaste waarneming aan die park in byna ʼn dekade. JP Smith van SANParke sê Botswana se Departement van Natuurlewe en Nasionale Parke het die waarneming bevestig, wat ʼn verskuiwing in migrasiepatrone kan beteken. Hy waarsku besoekers om in hul voertuie te bly, die reëls na te kom en aan te meld as hulle olifante gewaar om mense en die natuur se veiligheid te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….