Nuus 12:00
BULLETIN 23 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshofdatum vir die saak oor Jagersfonteinmyn se slikdamramp word in Januarie bepaal
# Twee polisielede sal die voormalige Franse president, Nicolas Sarkozy, in die tronk beskerm
# En krieket: Suid-Afrika wen die tweede toets teen Pakistan om die reeks gelykop te maak
# Die Landdroshof in Jagersfontein sal op 14 Januarie volgende jaar die datum bepaal vir die Hooggeregshofverhoor rakende 2022 se slikdam-ramp by die uitskotbergingsaanleg in Jagersfontein in die Vrystaat. Die siviele regsgeding is aanhangig gemaak deur 26 slagoffers en die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit. Vyf beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, skade aan eiendom en gesondheids- en veiligheidsoortredings. Die ramp het huise vernietig en plase met slyk bedek, terwyl twee mense dood is en ‘n derde vermis word. Slagoffers sê die geskeduleerde verhoor is ‘n teken van vordering.
# Action Society het ‘n aansoek by die Departement van Korrektiewe dienste ingedien ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting. Dit volg op die onwettige vrylating van die veroordeelde moordenaar Xolani du Preez wat ‘n vonnis van 11-jaar uitdien vir die moord in 2022 op die 28-jarige grimeerkunstenaar Suritha Alting in Kaapstad. Juanita du Preez van Action Society sê hulle soek alle dokumente, korrespondensie en interne verslae wat gelei het tot Du Preez se vrylating, verskuiwing en her-inhegtenisneming:
# Die DA in die Wes-Kaap het die onlangse aanranding van ‘n graad 10-leerder van die Hoërskool Milnerton in Kaapstad ten sterkste afgekeur. Agt leerders wat volgens berigte betrokke was by die aanranding, wat op video vasgelê is, is geskors en wag op tugverhore. Elmarie Linde van die DA sê leerders wat afgeknou word, word aangemoedig om hul ouers, onderwysers en skoolhoofde daaroor in te lig:
Nuus uit die buiteland:
# Twee polisielede sal die voormalige Franse president, Nicolas Sarkozy, in die tronk beskerm om te verseker dat hy nie leed aangedoen word nie. Hy het Dinsdag sy vonnis van vyf-jaar begin uitdien nadat hy skuldig bevind is aan sameswering om veldtogfondse uit Libië te bekom. Die minister van Binnelandse Sake, Laurent Nunez, het aan die radiostasie Europe 1 gesê Sarkozy is geregtig op beskerming weens sy status. Hy sê daar is beslis ‘n bedreiging teen hom en die beskerming sal gehandhaaf word terwyl hy in aanhouding is.
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan met agt paaltjies verslaan in die tweede en laaste toets in Rawalpindi om die reeks te deel. Die Protea-wegbreekbouler Simon Harmer het ses paaltjies platgetrek en Pakistan in sy tweede beurt help uitboul vir 138. Suid-Afrika het die teiken van 68 maklik gehaal danksy kaptein Aiden Markram se 42 en Ryan Rickelton se onoorwonne 25. Pakistan het die eerste toets in Lahore met 93 lopies gewen. Die twee lande pak mekaar nou in drie T20’s.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-784-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….