Nuus 12:00
BULLETIN 22 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika en Indonesië is verbind tot die versterking van bilaterale bande
# Ses mans verskyn in die hof vir die moord op die Kaizer Chiefs-ster Luke Fleurs
# En die veldbrand naby die Drakenstein-gevangenis in die Boland is ten volle onder beheer
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van die versterking en verbreding van bilaterale betrekkinge op politieke en ekonomiese vlak met Indonesië. Hy het vanoggend in die land aangekom as deel van ‘n besoek aan drie lande in Suidoos-Asië. Indonesië is Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot in die streek. Ramaphosa het die Indonesiese president, Prabowo Subianto, ontmoet en gesê die twee lande sal strategiese vennootskappe bevorder op gebiede soos handel, diplomasie en multilaterale samewerking:
# Ses mans wat beskuldig word van die moord op Kaizer Chiefs se verdediger, Luke Fleurs, verskyn vandag in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng. Die 24-jarige is in April verlede jaar doodgeskiet tydens ‘n kaping by ‘n vulstasie in Roodepoort. Die ses staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens. Die polisie glo die beskuldigdes is deel van ‘n Gautengse motorkapingsindikaat. Ondersoeke duur voort om meer verdagtes in hegtenis te neem.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens sê die brand in die omgewing van die Drakenstein-gevangenis op die R301 tussen Paarl en Franschhoek is ten volle onder beheer gebring. Die brand wat Maandagmiddag uitgebreek het, is deur sterk wind en digte plantegroei aangeblaas. Jo Otto van die munisipaliteit sê toe die wind laat gisteraand bedaar het, kon brandbestrydingspanne ‘n brandpad voor die brandlyn skep wat toegelaat het die brand homself uitgebrand het:
# Rugby: Ierland se skrumafrigter, John Fogarty, sê hulle is nie bekommerd oor die span se spelpeil voor volgende naweek se toets teen die All Blacks in Chicago, Amerika, nie. Ierland het tydens die Sesnasies laas ‘n toets gespeel, hoewel die meeste van hul spelers betrokke was by die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Die All Blacks het pas ‘n mededingende Rugbykampioenskap afgesluit teen die wenner, Suid-Afrika, Australië en Argentinië. Fogarty sê ‘n toets teen die Kiwi’s is die perfekte uitdaging om die fokus te verskerp.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-321-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-91-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse skaakgrootmeester en aanlyn kommentator Daniel Naroditsky het op 29 gesterf. Die gewilde skaakspeler se familie het sy onverwagte dood in ‘n verklaring deur sy klub aangekondig. Naroditsky het in 2007 internasionale aandag getrek toe hy die wêreldkampioenskap vir seuns onder-12 in Turkye gewen het. Hy het in 2010 as 14-jarige een van die jongste gepubliseerde skaakskrywers ooit geword in ‘n boek waarin praktiese vaardighede en tegniese strategieë bespreek is. Naroditsky het as ‘n tiener in 2013 ‘n grootmeester geword, die internasionale skaakfederasie se hoogste gekeurde vlak vir skaakspelers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….