Nuus 12:00
BULLETIN 21 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Slotbetoë word aangehoor in die Oos-Kaapse regter-president se seksuele teistering-tribunaal
# ‘n Sterk wind belemmer pogings om die veldbrand naby die Drakenstein-gevangenis in die Boland te blus
# En krieket: Maharaj neem sewe paaltjies om Pakistan te help uitboul vir 333
# Die seksuele teistering-tribunaal teen die Oos-Kaapse regter-president, Selby Mbenenge, betree vandag sy finale fase wanneer albei partye slotbetoë sal lewer. Mbenenge se voormalige skretaresse, Andiswa Mengo, beskuldig hom dat hy tussen 2021 en ’22 vulgêre boodskappe aan haar gestuur en ongewenste toenadering gesoek het. Hy ontken alle oortredings en hou vol die interaksie was wedersyds. Die Regterlike Dienskommissie sal besluit of die saak ‘n ampsklag regverdig.
# Die landbouorganisasie TLU SA verwelkom die hernude openbare bespreking oor die ware gelykheid en inklusiewe ekonomiese groei. Dit volg na die DA begin het om druk uit te oefen vir die vervanging van die swartbemagtigingsbeleid deur die instelling van die Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal. Die party sê die wetsontwerp sal armoede teiken as die plaasvervanger vir benadeling eerder as ras. Bennie van Zyl van die TLU sê swartbemagtiging in sy huidige vorm het tot wydverspreide wanbestuur, korrupsie en politieke begunstiging gelei:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se bandweerdiens sê brandbestryders veg steeds teen ‘n groot veldbrand in die gebied langs die Drakenstein-gevangenis op die R301, tussen die Paarl en Franschhoek. Die brand het gistermiddag ontstaan. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê een van die brandlyne op pad na die N1 het homself uitgebrand, maar die lyn na die rivier brand steeds:
Nuus uit die buiteland:
# Die Liberaal-Demokratiese Party se leier, Sanae Takaichi, is die eerste vrou wat as Japan se eerste minister gekies is. Die 64-jarige Takaichi, wat as Japan se “Ystervrou” bekendstaan, het 237 stemme uit 465 in die Parlement se laerhuis gekry. Dit volg nadat haar party ingestem het tot ʼn koalisie met die regse Japanse Innovasie-party. Takaichi, wat ʼn groot bewonderaar van die Verenigde Koninkryk se eerste vroue-premier, Margaret Thatcher, is, is konserwatief en gekant teen selfdegeslag-huwelike en ʼn groeiende beweging wat getroude pare toelaat om aparte vanne te gebruik.
# Krieket: ʼn Briljante sewe paaltjies deur die draaibouler Keshav Maharaj het die Proteas gehelp om Pakistan vir 333 uit te boul op die tweede oggend van die tweede toets in Rawalpindi. Die gashere het op 259 vir vyf hervat en die eerste paaltjie het op 316 gekantel, waarna korte mette gemaak is met die ander kolwers. Pakistan se kaptein, Shan Masood, se 87 was die grootste bydrae, gevolg deur Saud Shakeel se 66 en Abdullah Shafique se 57. Pakistan het die eerste toets gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-900-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-265-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….