Nuus 12:00
BULLETIN 20 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid veroordeel die medisyne-misbruik in openbare klinieke
# Die Madlanga-kommissie hou verhore oor misdaadkartelle gedeeltelik in camera
# En die VF Plus vra die regering om standpunt in te neem oor die Khoi en San se regte op erkenning
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het pasiënte veroordeel wat die openbare gesondheidsorgstelsel uitbuit deur duplikaat-medisyne by verskeie klinieke te versamel. Hy sê die gebruik ondermyn die integriteit van gesondheidsorg en keer hulpbronne vir diegene in nood. Sy opmerkings volg na ‘n busongeluk in Limpopo waar bottels medisyne gevind is waarvan die oorsprong en wettigheid ondersoek word. Motsoaledi waarsku nuwe elektroniese gesondheidsrekords sal binnekort sulke misbruik voorkom.
# Drie getuies sal na verwagting dié week voor die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig met verrigtinge wat gedeeltelik in-camera sal geskied. Getuies A, B en C sal van ‘n afgeleë plek getuienis lewer, maar met hulle stemme hoorbaar. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê drie was dienende speurders wat verbonde was aan die Gautengse Teenintelligensie-eenheid of die KwaZulu-Natalse politieke moord-taakspan. Hy sê hulle getuienis hou verband met hulle ervarings met die ondersoek van misdade van kartelle wat die onderwerp is van die kommissie se ondersoeke.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit is ‘n growwe skending van die Grondwet se beginsel van gelykheid dat Nguni-leiers volle wetlike status geniet, terwyl Khoi-San-leiers steeds onderdruk word. Die Konstitusionele Hof het die ongeldigheidsverklaring van die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap vir twee jaar opgeskort tot Mei 2027. Die VF Plus sê gedurende hierdie tyd is nasionale, provinsiale en plaaslike regerings vry om wetgewing te aanvaar sonder om die regte van Khoi- en San-gemeenskappe te waarborg. Hy sê die regering het ‘n geskiedkundige geleentheid om dié onreg reg te stel.
# Sokker: Liverpool se bestuurder, Arne Slot, is gefrustreerd oor sy span se swakhede, en sê hulle moet hul puntetelling en verdediging verbeter, veral in die vaste fasette. Die heersende Premierliga-kampioen het gister sy vierde agtereenvolgende nederlaag in alle kompetisies gely toe hy op Anfield 2-1 teen Manchester United verloor het. Liverpool het sedert Mei twee of meer doele in agt van hul 12 ligawedstryde afgestaan, wat meer as enige ander span is. Slot sê hy glo hulle sal weer regkom:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-998-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-258-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-79-sent per vat.
# En laastens, die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het alle Suid-Afrikaanse bestemmings en produkte gelukgewens wat vir die Wêreld-reistoekennings benoem is. Suid-Afrika is benoem as die wêreld se beste bestemming, terwyl die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika benoem is as beste lughawe-operateur. Kaapstad is in verskeie kategorieë benoem, onder meer beste stadsbestemming, en Tafelberg as die wêreld se voorste toerisme-aanloklikheid. Meyer sê die toekennings erken uitnemendheid in die bedryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….