Nuus 12:00
BULLETIN 16 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat probeer om meer as 28-miljoen-rand se regskoste van Jacob Zuma te verhaal
# TLU SA sê die handelsprotokol met China vir steenvrugte sal waardevolle geleenthede skep
# En BOSA eis aanspreeklikheid terwyl duisende leerders uit die skoolstelsel verdwyn
# Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag ‘n aansoek van die Presidensie en die staatsadvokaat aan om 28-miljoen-rand se regskoste in sy persoonlike hoedanigheid van oudpresident Jacob Zuma te verhaal. Die Appèlhof het in 2021 beslis Zuma is nie geregtig op voortgesette staatsbefondsing vir sy korrupsiesaak nie. Die staat het verlede jaar met ʼn regsgeding begin om die geld terug te kry. Zuma sê hy sal nie die geld kan terugbetaal nie, selfs nie as sy presidensiële pensioen aan die staat verbeurd verklaar word nie.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die geskiedkundige steenvrugte-handelsprotokol tussen Suid-Afrika en China. Die ooreenkoms verseker die eerste keer toegang tot die Chinese mark vir vyf soorte Suid-Afrikaanse steenvrugte: appelkose, perskes, nektariens, pruime en pruimedante. Toegang tot die Chinese mark kan oor die volgende vyf jaar sowat 400-miljoen-rand vir die land ontsluit. Bennie van Zyl van TLU SA sê hierdie ooreenkoms skep waardevolle geleenthede vir groei, belegging en werkskepping:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta is bemoedig deur die stelsels wat vanjaar se matriek-eindeksamen moet beskerm. Die gehaltebeheer-liggaam Umalusi het aangekondig meer as ʼn miljoen kandidate is by die drie assesseringsliggame geregistreer om die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te lê wat volgende week begin. Die liggame is die Departement van Basiese Onderwys, die Onafhanklike Eksamenraad en die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut. Makaneta sê geen vraestelle mag uitlek nie:
Build One South Africa vra intussen die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om rekenskap te gee van die skoolverlatingskrisis in die land. Sowat 450-duisend leerders het uit die stelsel verdwyn voordat hulle graad 12 gehaal het. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê dringende ingryping is nodig om die probleem te hanteer. Hy sê dit sluit in minder leerders per klas, beter ondersteuning aan onderwysers, ʼn einde aan begrotingsbesnoeiings in onderwys, en psigo-maatskaplike en voedingsondersteuning aan behoeftige leerders.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ʼn groep van 25 spelers aangekondig vir Woensdag se Afrikabeker-kwalifiseerder teen die Demokratiese Republiek die Kongo. Die tweede wedstryd vind op 28 Oktober in Johannesburg plaas. Thembi Kgatlana, wat in April laas vir die nasionale span gespeel het, is ook in die groep. Ellis het sewe spelers ingesluit wat oorsee gebaseer is. Die toernooi vind volgende jaar die tweede keer binne twee jaar in Marokko plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-658-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-234-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….