Nuus 12:00
BULLETIN 13 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa betreur die hoë sterftesyfer na ‘n busongeluk in Limpopo
# Al 20 oorlewende Israelse gyselaars word uit Gaza vrygelaat
# En krieket: Suid-Afrika boul Pakistan vir 378 uit na Muthusamy ses paaltjies neem
# President Cyril Ramaphosa het sy medelye aan Zimbabwe en Malawi oorgedra wat landsburgers verloor het in gistermiddag se busongeluk naby Makhado in Limpopo. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê volgens berigte is 42 passasiers dood in die ongeluk op die N1 terwyl hulle van Gqeberha in die Oos-Kaap op pad was na hul vaderlande. Hy sê die voorval is ‘n tragedie vir Suid-Afrika en sy suster-state:
# Die United Democratic Movement sê hy is diep ontsteld oor die toenemende vlaag ontvoerings in die land. Van Januarie tot Maart vanjaar is vier-duisend-571 voorvalle van ontvoering aangemeld wat 6,8-persent meer is as dieselfde tydperk in 2024. Die UDM se sekretaris-generaal, Zandile Phiri, sê die regering moet die teenontvoering- en die misdaadintelligensie-taakspan in elke provinsie uitbrei, met gespesialiseerde vermoëns om te reageer op losprys-ontvoerings:
Nuus uit die buiteland:
# Hamas het die 20 oorlewende Israelse gyselaars oorhandig ingevolge ‘n wapenstilstandooreenkoms, terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, en ander wêreldleiers voorberei vir ‘n spitsberaad oor Gaza. Gyselaarsgesinne is in Tel Aviv deur ‘n groot skare ondersteun, wat met vreugde, trane en sang reageer het op die nuus van die eerste vrylatings. Die pyn vir die verlies van diegene wat nie oorleef het nie, was egter tasbaar. Israel sal op sy beurt byna twee-duisend Palestynse gevangenes uit sy tronke vrylaat.
# Krieket: Senuran Muthusamy was die Proteas se groot held op die tweede dag van die eerste toets teen Pakistan in Lahore. Hy het altesaam ses paaltjies geneem in die gasheer se eerste beurt om hulle vir 378 te help uitboul. Pakistan het op 313 vir vyf hervat en Muthusamy het drie paaltjies in ‘n enkele boulbeurt platgetrek. Die reeks van twee wedstryde is die Proteas se eerste van die nuwe Wêreldtoetskampioenskap nadat hulle Australië in Junie verslaan het in die eindstryd van die vorige siklus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-290-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-75-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die SAKP sê die besluit om die Nobelprys vir Vrede aan Maria Corina Machado toe te ken, verander die prys in ʼn instrument vir die imperialistiese agenda van regime-veranderinge en staatsgrepe. Die 58-jarige opposisieleier van Venezuela het erkenning gekry vir haar stryd om ʼn regverdige en vreedsame oorgang van diktatorskap na demokrasie te bewerkstellig. Pius Vilakati van die SAKP sê Machado is ʼn bewonderaar van Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….