Nuus 12:00
BULLETIN 7 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Department van Vervoer het ‘n Russiese vragvliegtuig toestemming gegee om in Suid-Afrika te land
# Die Hugenote-tonnel se strukturele integriteit is onaangeraak, maar dis steeds nie seker wanneer dit gaan heropen nie
# En rugby: Die Stormers verloor nog ‘n Bok-stut weens ‘n besering
# Die Departement van Vervoer het bevestig dat hy verlede maand ‘n vlugpermit aan ‘n Russiese vlugoperateur, Abakan Air, uitgereik het. Die Amerikaanse Departement van Finansies se Kantoor vir Buitelandse Batebeheer het Abakan Air in Junie verlede jaar vir sanksies aangewys, met verwysing na die maatskappy se rol in die vervoer van Russiese militêre toerusting. Die Russiese IIyushin IL-76-vragvliegtuig het Donderdag in Upington in die Noord-Kaap geland met ‘n vol vrag. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die vliegtuig het ‘n burgerlike helikopter en ‘n akrobatiese vliegtuig vervoer:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap sê die strukturele integriteit van die Hugenote-tonnel in die Boland is onaangeraak. Dit volg nadat ‘n bus Vrydagaand binne die tonnel aan die brand geslaan het, wat tot die sluiting gelei het. Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê die aangewese ingenieurs- en instandhoudingspanne gaan voort om die omvang van die skade aan die tonnel en infrastruktuur te bepaal. Hy voeg by dat daar geen definitiewe tydlyn beskikbaar is vir wanneer die tonnel heropen sal word nie:
# Business Leadership SA sê die regering moet deur BRICS en die Afrika-vryhandelsooreenkoms met mening alternatiewe handelsvennootskappe vind en bou. Dit volg op die verstryking van die Amerikaanse voorkeurhandelsraamwerk, Agoa, op 30 September. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy vertrou ‘n hernuwing is op hande. Suid-Afrika was verantwoordelik vir 54-persent van alle Agoa-uitvoere na Amerika. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê ‘n versnelde hervormingsagenda kan die negatiewe gevolge van Agoa se einde verminder.
# ‘n Israelse drukgroep wat hom beywer vir die vrylating van gyselaars in Gaza vra dat die Nobelprys vir Vrede toegeken word aan die Amerikaanse president, Donald Trump, vir sy vasberadenheid om vrede te bewerkstellig in die Midde-Ooste. Die forum skryf in ‘n brief aan die Noorweegse Nobel-komitee Trump het moontlik gemaak wat baie as onmoontlik beskryf het. Onderhandelings het gister tussen Israel en Hamas begin, gegrond op ‘n 20-punt-plan wat Trump verlede week aangekondig het.
# Rugby: Die Stormers sal vir die afsienbare toekoms sonder hulle Springbok-vaskopstut, Neethling Fouché, moet klaarkom nadat hy sy arm gebreek het in Vrydag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Kaapstad. Nog ‘n Bokstut, Frans Malherbe, sukkel met ‘n rugbesering. Afrigter John Dobson sê die goeie nuus is dat die Bok-agterspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian de Allende en Cobus Reinach binnekort by hulle sal aansluit na hulle oorwinning in die Rugbykampioenskap. Die Stormers is tans tweede op die punteleer na die Bulle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-583-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-953-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….