Nuus 12:00
BULLETIN 6 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu verwelkom SAMA se opskorting van bande met die Israelse Mediese Vereniging
# Die rade van vier Johannesburgse instellings kry ‘n spertyd om op die Khampepe-ondersoek se aanbevelings te reageer
# En die Hugenote-tonnel in die Boland bly steeds gesluit nadat ‘n bus in die tonnel brand
# Die vakbondfederasie Saftu het die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se besluit verwelkom om sy betrekkinge met die Israelse Mediese Vereniging op te skort. Sama sê sy besluit volg op kommer oor die voortslepende humanitêre krisis in Gaza en die gedrag van die IMA wat betref mediese etiek en humanitêre verpligtinge. Saftu se hoofsekretaris, Zwelenzima Vavi, sê Sama se besluit is geskiedkundig en dapper:
# Die Stad Johannesburg het die rade van vier sleutelinstellings tot die einde van die maand gegee om te verduidelik watter stappe hulle gedoen het teen rekenkundige beamptes wat betrek is deur die Khampepe-kommissie van ondersoek. Die instellings is die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy, PikitUp, City Power en Johannesburg Water. Die kommissie het die Usindiso-gebou ondersoek waar 76 mense in 2023 in ‘n brand gesterf het. Aanbevelings sluit in dat rekenkundige beamptes dissiplinêr verhoor word waar daar bewyse van mislukking is. Die metro sê hy gaan teen die instellings optree.
# Owerhede in die Wes-Kaap sê die Hugenote-tonnel op die N1 in die Boland bly gesluit. Dit volg nadat ‘n bus Vrydagnag in die tonnel aan die brand geraak en beduidende skade aan die infrastruktuur veroorsaak het. Duisende reisigers wat dié roete gereeld gebruik, is genoodsaak om alternatiewe roetes tussen Worcester en die Paarl te gebruik. Die waarnemende direkteur van Verkeerswetstoepassing in die provinsiale Departement van Beweeglikheid, Antoinette Fennie, sê die tonnel kan nie heropen word voordat strukturele beoordeling en herstelwerk afgehandel is nie:
# Motorsport: Die nuut-gekroonde MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het vermoedelik ‘n sleutelbeen gebreek in ‘n botsing in gister se Indonesiese Grand Prix. Marco Bezzecchi van Aprilia het probeer om Marquez aan sy binnekant verby te steek, maar het met die Ducati-jaer se agterwiel kontak gemaak en albei het geval. Die nuweling Fermin Aldeguer het toe die wedren gewen. Die Spanjaard, wat in die vorige wedren in Japan sy sewende MotoGP-kampioenskapstitel beklink het, sê hy sal verdere toetse in sy land ondergaan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-757-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-941-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Taylor Swift se vrystelling, The Official Release Party of a Showgirl, was die naweek boaan die wêreldloket-trefferlys. Die prent van 89-minute bied aanhangers agter-die-skerms-beeldmateriaal van Swift se 12de ateljee-album, The Life of a Showgirl. Paul Thomas Anderson se bekroonde One Battle After Another, met Leonardo DiCaprio in die hoofrol, het na die tweede plek teruggesak, met die nuweling Dwayne Johnson se R-gegradeerde sportdrama, Smashing Machine, derde. DreamWorks Animation/Universal se Gabby’s Dollhouse: The Movie, en New Line se The Conjuring: Last Rites voltooi die top-vyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….