Nuus 12:00
BULLETIN 23 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking verwerp Ghanese burgers se versoekskrif aan die Internasionale Strafhof as opportunisties
# Die hof vir klein eise se jurisdiksie word tot 30-duisend-rand verhoog
# En fietsry: Die verdedigende kampioen Pogačar behou ‘n stewige voorsprong voor die 18de skof van die Tour de France
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking beskryf twee Ghanese burgers se versoekskrif aan die Internasionale Strafhof as opportunisties. Hulle vra die hof vir ‘n voorlopige ondersoek na aanvalle teen buitelanders in Suid-Afrika omdat hulle glo dit kan neerkom op misdade teen die mensdom. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die voorlegging voldoen nie aan die wetsvereistes en voorwaardes wat nodig is vir die hof om op te tree nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die Reserwebank om finansiële druk op huishoudings in ag te neem wanneer die Monetêre Beleidskomitee vanmiddag oor die terugkoopkoers besluit. Ekonome is onseker of die sentrale bank die rentekoers gaan verhoog of nie. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naicker, sê salarisverhogings hou nie tred met die oplopende uitwerking van inflasie en die volgehoue styging in lewenskoste nie:
# Die Nasionale Tesourie het sy besluit verdedig om 69 munisipaliteite se Julie-fondse van 13,5-miljard-rand tydelik terug te hou weens swak finansiële bestuur. Hy sê dis in ooreenstemming met grondwetlike en wetgewende voorskrifte. Dit volg nadat die Finansiële en Fiskale Kommissie die besluit se wetlikheid bevraagteken het. Die adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die Tesourie se algemene raad, advokaat Empie van Schoor, sê die uitvoerende gesag kan die toelaes terughou, maar die Parlement moet dit goedkeur.
# Die hof vir klein eise se monetêre regskrag word op 1 Augustus verhoog van 20-duisend- tot 30-duisend-rand. Die eerste aanpassing sedert 2019 brei toegang uit tot bekostigbare, doeltreffende geregtigheid gegrond op meriete eerder as finansiële middele. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling se woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê die uitwerking van die howe is aansienlik, want die afgelope boekjaar is meer as 36-duisend-600 sake ter waarde van 257-miljoen-rand geregistreer:
# Fietsry: Die Tour de France betree vandag die Hoë Alpe vir die 18de skof, met die verdedigende kampioen Tadej Pogačar wat gister sy stewige algehele voorsprong suksesvol verdedig het. Die fietsryers pak vandag ‘n klimtog van drie-duisend-900 meter oor 185-kilometer. Pogačar is egter bekommerd oor sy spanmaat, Adam Yates, wat ongesteld is en gister 26 minute ná die skofwenner, Jasper Philipsen van België, geëindig het. Die Brit, wat in 2023 derde was, is een van Pogačar se belangrikste spanmaats in die berge.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-547-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-89-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….