Nuus 12:00
BULLETIN 29 September 1`2 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum for SA is bekommerd oor die moontlike bedanking van die Madlanga-kommissie se getuienisleier
# Die DA veroordeel die skending van die Paul Kruger-standbeeld in Tshwane
# En Suid-Afrika maak geskiedenis met vyf Emmy-benoemings
# Forum for South Africa vra president Cyril Ramaphosa en die Madlanga-kommissie om dringend aandag te gee aan die moontlike onttrekking van die getuienisleier, advokaat Terry Motau. Hy het volgens berigte aangedui hy gaan bedank, maar weier om redes te verskaf. Die kommissie sê hulle gaan nie personeelsake in die openbaar bespreek nie. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê Motau se moontlike bedanking laat vrae ontstaan oor die kommissie se geloofwaardigheid:
# Die DA veroordeel die skending van die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria. ‘n Geweerloop en stewel van een van die boerekrygers langs Kruger se standbeeld is verlede week afgebreek. Die veiligheidsheining rondom die standbeelde is ook beskadig. Niemand is in hegtenis geneem nie. Jacqui Uys van die DA sê dis die jongste voorbeeld van die Stad Tshwane se mislukking om die regsorde in die middestad toe te pas:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê ʼn Amerikaanse burger, Amir Amiry, wat onregmatig aangehou is, is uit ʼn Afgaanse tronk vrygelaat. Hy is die vyfde Amerikaner wat vanjaar uit aanhouding in Afganistan vrygelaat word. Die spesiale gesant vir gyselaars, Adam Boehler, het na Kaboel gereis om persoonlik toesig te hou oor Amiry se vrylating. Rubio sê dis ʼn belangrike stap vorentoe, maar ander Amerikaners word steeds onregmatig in Afganistan aangehou en sê hulle sal nie rus tot almal tuis is nie.
# Sokker: Arsenal het ‘n agterstand teen Newcastle United omgekeer om 2-1 te wen en is nou slegs twee punte agter die Premierliga-voorloper, Liverpool. Nick Woltemade het Newcastle laat voorloop voor die plaasvervanger Mikel Merino sake gelykop gemaak het, waarna Gabriel Magalhães in die 96ste minuut verdoel het om Arsenal te laat wen. Liverpool het 2-1 teen Crystal Palace verloor in hul eerste nederlaag van die seisoen. Arsenal se afrigter, Mikel Arteta, sê sy span het ʼn punt bewys met die sege:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-224-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-809-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-29-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika het vyf internasionale Emmy-benoemings ontvang, die meeste ooit vir ‘n Afrika-land in een jaar. MultiChoice het vier benoemings gekry: vir Chasing the Sun 2, die Afrikaanse misdaaddrama Koek, die treffende dokumentêr School Ties en Catch Me a Killer, ‘n sielkundige riller wat aan Charlotte Hope in die rol van Micki Pistorius, ‘n benoeming vir die beste aktrise besorg het. Play Room Live is benoem in die feitlike en vermaaklikheidskategorie vir kinders. Die wenners word op 24 November in New York aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….