Nuus 12:00
BULLETIN 26 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bied Suid-Afrika aan vir vredesamesprekings tussen Zelensky en Putin
# Benjamin Netanyahu sal na verwagting weerbarstig wees tydens sy toespraak by die VN Algemene Vergadering
# En, die Johannesburgse voorstad, Linden haal ‘n lys van die beste buurte in die wêreld
# President Cyril Ramaphosa sê hy het Suid-Afrika aangebied as plek vir toekomstige vredesamesprekings tussen die president van Oekraïne Volodymyr Zelensky en die Russiese president Vladimir Putin. Ramaphosa het vandeesweek in New York ‘n bilaterale ontmoeting met Zelensky gehad. Die president sê Suid-Afrika is uniek geleë om Putin, Zelensky en die Amerikaanse president Donald Trump vir ‘n drieledige vergadering byeen te bring:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê sy departement is deur die Uitgebreide Openbare Werke Program daartoe verbind om meer as 77-duisend voltydse werksgeleenthede te skep. Hiervan sal 65-persent aan vroue gaan, 55-persent aan die jeug en twee-persent aan gestremdes. Die woordvoerder van die departement, Thobile Zulu-Molobi, sê projekte soos die Jeug Omgewingsdienste, Jeug Werk in Afval en Omgewingsmonitors bied opleiding en stuur mense in die rigting van die bewaring van biodiversiteit, landboukultuur, afvalbestuur en herwinbare energie:
# Die Israelse Eerste Minister, Benjamin Netanyahu, sal na verwagting vandag ‘n weerbarstige boodskap aan die Verenigde Nasies teen ‘n Palestynse staat lewer, maar hy verkeer onder druk van die Amerikaanse president Donald Trump, wat ‘n skikking oor Gaza wil hê. Netanyahu sal die VN Algemene Vergadering toespreek dae nadat Frankryk, Brittanje en verskeie ander Westerse moondhede ‘n Palestynse staat erken het. Israel se langsdienende eerste minister, het lankal reeds ‘n Palestynse staat verwerp, en sy regse bondgenote oorweeg die besetting van die Wesoewer om enige werklike vooruitsig van ‘n onafhanklike Palestina te vernietig.
Tennis: Die Amerikaner, Coco Gauff, het haar plek in die laaste 32 bespreek in ‘n poging om die China Ope vir ‘n tweede agtereenvolgende keer te wen met ‘n gemaklike, 6-4, 6-0 oorwinning oor Kamilla Rakhimova van Rusland. Die wêreldnommer-drie speel in haar volgende wedstryd teen Leylah Fernandez van Kanada, wat Maria Sakkari van Griekeland 6-2, 6-0 oorrompel het. Gauff se grootste teenstander is die wêreldnommer-twee, Iga Swiatek van Pole, wat pas ‘n titel in Seoul ingepalm het. Die wêreldnommer-een, Aryna Sabalenka speel nie in die toernooi nie as gevolg van ‘n besering.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-637-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-751-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-59-sent per vat.
# En laastens, Linden in Johannesburg het TimeOut se 2025-lys met die 39 lekkerste woonbuurte in die wêreld gehaal. TimeOut sê hierdie woonbuurte is plekke wat stede se siel verteenwoordig terwyl dit hul eie unieke, plaaslike karakter behou wat mense lok om daar te woon, werk en speel. Linden is 17de en kry erkenning vir sy outydse egtheid, boheemse boetieks en sjarmante tradisionele en ultra-cool atmosfeer. Jimbōchō in Tokio met sy 130 tweedehandse boekwinkels is eerste, gevolg deur Borgerhout in Antwerpen en Barra Funda in São Paulo in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….