Nuus 12:00
BULLETIN 23 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beywer hom vir volhoubare en verantwoordbare natuurbewaring
# Die FNB Huisprysindeks toon sterk momentum in Augustus
# En, daar is woede in Australië na ‘n telekom-onderbreking tot sterftes lei
# President Cyril Ramaphosa sê die natuur ken geen politieke grense nie en Suid-Afrika is vir die huidige en toekomstige geslagte verbind tot natuurbewaring. Hy het gister die Africa Keystone-vennootskap vir beskermde gebiede se nagereg- en sjampanje-onthaal vir staatshoofde bygewoon wat by die 80ste Algemene Vergadering van die VN in New York gehou is. Ramaphosa sê die 162 bestaande beskermde gebiede in Afrika het die potensiaal om saam ‘n reusebydrae tot bewaring van biodiversiteit te lewer:
# Die FNB Huisprysindeks het in Augustus tot 4,5-persent op ‘n jaargrondslag gestyg, die vinnigste groei in meer as drie jaar en die vierde agtereenvolgende maand van reële huisprysstygings, aangepas vir inflasie. ‘n Eiendomsekonoom by FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê die Wes-Kaap loop steeds voor, maar Gauteng en KwaZulu-Natal toon hernude momentum. Hy beklemtoon hoewel die aanvraag en pryse verbeter, bly verbandlenings steeds gedemp, aangesien krediet-versigtigheid die huismark se herstel bepaal:
# Australiese amptenare het belowe dat die telekommunikasiereus Optus die gevolge sal moet dra vir die stelselonderbreking wat met ‘n aantal sterftes verbind word. Die voorval verlede week het beteken dat honderde mense in meer as die helfte van die land vir 13 uur nie nooddienste kon skakel nie. Minstens drie mense het as gevolg daarvan gesterf, en die uitvoerende hoof het om verskoning by hulle families en die publiek gevra vir die onaanvaarbare mislukking. Optus is een van die land se twee hoofverskaffers, en is nou onder skoot vir die vertraagde hantering van die voorval.
# Gholf: Span Europa se kaptein, Luke Donald, sê hy is trots op sy span wat die geleentheid verwerp het om betaling te ontvang vir hul deelname aan die Ryderbeker-kompetisie. Die Amerikaanse PGA het verlede jaar aangekondig dat Span Amerika betaal gaan word om in die kompetisie te speel, wat ‘n nuwe wending in tradisie was. Die Ryderbeker-kompetisie begin Vrydag op Bethpage in New York. Donald sê hulle het geen motivering of monetêre vergoeding nodig om in die spesiale kompetisie te speel nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-120-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-764-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-87-sent per vat.
# En laastens, die Kanadese rock-legende Bryan Adams bring in April volgende jaar sy Roll with the Punches-toer na Suid-Afrika. In sy loopbaan van vier dekades het Adams ʼn Grammy gewen en nommer-een-treffers in meer as 40 lande gehad. Hy spog ook met drie Oscars en vyf Golden Globe-benoemings. Sy treffers sluit in Everything I Do I Do It for You, Summer of ’69 en Run to You. Adams gaan in Kaapstad, Pretoria en Durban optree. Kaartjies is van Vrydag af te koop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….